SWELLENDAM NUUS - Ná ’n langdurige middagsessie in die Swellendam-landdroshof op Vrydag 17 Oktober, is borgtog toegestaan aan twee mans, albei 42 jaar oud, wat aangekla word van statutêre verkragting en verkragting van twee minderjarige seuns.
Een van die beskuldigdes is ’n bekende opvoeder by ’n plaaslike skool, terwyl die ander na bewering ook aktief in sportkringe, veral netbal, betrokke is.
Tydens die verrigtinge is getuienis deur die polisie aangebied, asook vertoë van beide die staat en verdediging oor die beweerde voorval wat op 4 of 5 Oktober plaasgevind het.
Die hof het aan albei beskuldigdes borgtog van R1 000 elk toegestaan, met streng voorwaardes.
Hulle mag geen kontak hê - hetsy direk of indirek - met minderjarige kinders onder 18 jaar nie.
Vir die eerste beskuldigde, wat ’n opvoeder is en waar een van die slagoffers ’n leerder aan sy skool is, is hierdie bepaling spesifiek beklemtoon.
Hulle mag ook geen kontak met die slagoffers of hul families hê nie.
Die saak is tot Dinsdag 20 Januarie volgende jaar, vir verdere ondersoek uitgestel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’