CALEDON NUUS - Die minderjarige seun wat aangekla is van die moord op ’n leerder van Overberg Hoërskool in Caledon, is vandag in die Wes-Kaapse Hooggeregshof tot effektief 25 jaar gevangenisstraf gevonnis.
Die jong oortreder van Grabouw, wat 17 jaar oud was tydens die moord, het die graad 10-leerder Deveney Nel (16) in Augustus 2024 vermoor.
Haar liggaam is ná ’n soektog van ’n paar uur in ’n stoorkamer by die skool gevind.
Volgens Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Wes-Kaapse Vervolgingsgesag, het die beskuldigde, deur sy prokureur, die staat genader met die oog op ’n pleitooreenkoms oor die straf.
“Hy het die moord op Nel erken, asook die poging om haar liggaam te versteek.
Hy is tot 25 jaar direkte gevangenisstraf vir die moord en 12 maande direkte gevangenisstraf vir die poging om die regsproses te dwarsboom,” het Ntabazalila gesê.
Die vonnis word beskou as ’n eerste in Suid-Afrika se regsgeskiedenis, waar ’n minderjarige oortreder só swaar gestraf is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’