Update
HESSEQUA NUUS - Opgewondenheid het hoogty gevier en alles was in plek vir die amptelike opening van Hessequa se heel eerste kunsroete en -galery op Donderdag, 24 Junie in Riversdal.
Die uitstalling word by die Central Boutique Hotel aangebied en stal 40 kunstenaars vanuit die streek se skilderye en ander kunswerke uit.
Die Covid 19-gevalle wat in die streek toeneem het egter 'n speek in die wiele gesteek en moes daar herbesin word. Die funksie is gekanselleer en 'n aanlyn-opening word vervaardig.
Die uitvoerende burgemeester, Grant Riddles het die heel eerste Hessequa-kunsroete en -galery aanlyn geopen met 6 000 besoekers wat na die uitsending gekyk het.
"Reeds die volgende oggend toe van die kunstenaars hul gewone roetine volg en gou winkel toe draf, het lede van die gemeenskap hulle voorgekeer en van die opgewondenheid oor die projek vertel, dat die geleenthede wat vanuit die roete gaan voortspruit, hoop skep vir beter en gesonder tye," vertel Irma Huysamer, mediabeampte vir die Hessequa-kunsroete.
"Die gemeenskap bied hulle volle samewerking aan. Die kunsroete gaan sy plek in die gemeenskap vol staan en wil 'n integrale deel van die streek se ekonomie inneem, hande met Toerisme vat en meer besoekers na die Hessequa-streek lok."
By dieselfde funksie is Christo Gelant, 'n jongman van Melkhoutfontein aangewys as Jong Opkomende Kunstenaar van die streek.
Christo het, toe hy lid van die kunsroete geword het, ingespring en die groep Melkiez Art gestig waar kunsklasse aangebied word.
Christo Gelant van Melkhoutfontein is aangewys as die “Jong Opkomende Kunstenaar” van die streek.
Kunsliefhebbers kan na 'n streekuitstalling in Heidelberg gedurende September uitsien. Daar word ook beplan om open studios en kunswerkwinkels gedurende September aan te bied.
Gedurende Desember is dit Stilbaai, Jongensfontein en Melkhoutfontein se beurt om ook 'n streekuitstalling te hou.
"Die Hessequa-kunsroete is 'n gemeenskap waar kuns deel van ons mensword vorm," het Huysamer afgesluit.
Dorpsverteenwoordigers
Vir meer inligting kan die volgende dorpsverteenwoordigers gekontak word:
- Heidelberg en omgewing: Louise Kluyts (082 378 4126/028 722 1080)
- Stilbaai, Jongensfontein, Melkhoutfontein en Droëvlakte: Sonja Margerison (072 222 4168)
- Riversdal: Marilise Lombaard (074 034 0352); Nicole Hein (083 250 1113)
- Gouritsmond: Nicole Hay (072 174 1410)
- Albertinia: Nakita Joubert (082 738 5787)
Die Central Boutique Hotel wat die streeksuitstalling huisves, sal as gevolg van Covid 19-protokol (vlak 4) vir die volgende 14 dae gesluit wees, maar die kunswerke kan op Facebook besigtig word by Hessequa Art Route, asook Hessequa Art Gallery.
Marilise Lombaard se kaart van die kunsroete.
Vorige artikel: Kunsroete en -galery word aanlyn geopen
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'