Gallery
STILBAAI NUUS - Die naweek van 7 tot 9 Oktober het alle paaie na Palmyra-landgoed gelei waar die Kruisbestuif-kunstefees aangebied is.
Stilbaai en omgewing is geseën met uitstekende kunstenaars en die talle kunswerke is met, onder andere, kinderkuns, macramé en die heerlikste eetgoed aangevul.
Dit, tesame met die pragtige tuin vanwaar jy afkyk op die kronkelende Goukourivier, het die besoek oor en oor die moeite werd gemaak.
Besoekers kon by hulle aankoms 'n drasak koop met 'n Bytjie Bola-kaartjie waarmee jy iets kon wen, asook 'n kaart van die uitstallings en terrein.
Daar was twee opwiprestaurante waar besoekers kon eet en ontspan, terwyl hulle na lewendige musiek luister.
FOTOGALERY: Alle paaie na Palmyra-landgoed vir die kunstefees
Skilderye, die kinderkuns- en ander uitstallings is vernuftig versprei en mens wou die kunsroete meer as een keer stap net om seker te maak jy het niks gemis nie. Besoekers het ook die voorreg gehad om meeste van die kunstenaars te ontmoet en hulle was meer as bereid om oor hulle kunswerke te praat.
Daar was Vrydag ook 'n dramavoorlesing, geskryf en deur Hester Genis opgevoer. Sondag is afgeskop met 'n dankseggingsdiens gelei deur ds. Wollie Grobler van Heidelberg.
Hierdie is voorwaar iets om na uit te sien in 2023 en dan gaan Palmyra uit sy nate bars, want Stilbaaiers praat.
Marie-Anne Kleinhans by haar macramé en haar man, Evert, se heuning.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'