HEIDELBERG NUUS & VIDEO - Plaaslike kunstenaars het op Vrydag 1 Desember saam met Louise en Andries Kluyts die kunsgalery vir die seisoen geopen.
Die tema van die aand was 'The spirit of man.'
Volgens Cornell Uys gaan dit daaroor dat, "Ten spyte van ons negatiewe omstandighede, veral ook op sosiale media, is ons daartoe in staat om uit te styg bo dit wat negatief is.
" Ons kreatiwiteit help ons om weer hoop te kry en help ons om die lewe rondom ons weer mooier te maak."
Sy het twee indrukwekkende installasiekunswerke gemaak vir die spesiale aand, wat juis hierdie idee uitbeeld deur middel van verskillende kleure blomme wat uit dooie klip en takke uitspruit.
Die blomme simboliseer die beter en mooier dinge waarna ons streef, die verskillende kleure verteenwoordig die reënboog nasie, "want as almal saamwerk en net wil positief wees, kan ons bo alles uitstyg."
Die dooie takke en klip verteenwoordig al die negatiewe dinge waarvan ons moet uitstyg.
Volgens Kluyts is die kunsuitstalling 'n platform vir die hele Hessequa-streek se kunstenaars en kunsstudente om uit te stal. Haar man, Andries het haar ondersteun en daar is nie 'n manier wat sy dit sonder hom kon doen nie.
Jacquie Gildenhuys, Francoi Gunter en Simon Odendaal geniet die geselligheid.
"Hierdie jaar het ons dit 'n aand van kuns en kultuur gemaak met goeie kwaliteit plaaslike kuns, drama en musiek."
Studente van 'n plaaslike toneelskool het 'n toneelstuk opgevoer wat Wim Vorster geskryf het. Die stuk gaan oor hoe mense geboelie word op sosiale media.
Kluyts is tevrede met die aand se uitkoms omdat 'n leemte in die gemeenskap word met hierdie instelling gevul word.
"Die kombinasie van alles maak iets in almal se siel wakker. Dit is die doel van kuns. Elkeen het teruggegaan huis toe met 'n ster in die oog en 'n hernude droom wat met hulle praat."
Kyk 'n video hieronder:
ARTIKEL, VIDEO & FOTO'S: ALETTA SUTHERLAND, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'