HEIDELBERG NUUS - Heidelberg Kindersorg het met hul jaarlikse Jeugdagvieringe op die leerders van die Heidelberg-geletterdheidsentrum, alombekend as ABET gefokus.
Vanjaar het hulle in samewerking met die departement korrektiewe dienste, Mosselbaai saamgespan en die leerders in die Diepkloof-jeugsentrum toegespreek.
Die hoofspreker by die verrigtinge was Liezel Cooper, proefbeampte vir die Hessequa-streek. Cooper het die leerders 'n breë oorsig oor die impak van misdaad op hul lewens gegee. Sy het hulle ook in diepte oor die negatiewe effekte van drank en dwelmmisbruik, nie net in verband met misdaad nie, maar ook wat dit aan hul gesondheid, fisies of geestelik kan doen, ingelig.
Verder het sy hulle gewaarsku teen die misdadigers wat so roem oor hulle invloed in die tronke en hulle statusse as sogenaamde rolmodelle in die verskeie gemeenskappe waar hulle woon.
"Hulle wat so grootpraat is gewoonlik die soort wat soos bediendes moet rondstaan vir die groot name in die tronkbendes. Die tronk is nie jou huis nie en jy word van jou vryheid ontneem. Dit is glad nie lekker daar soos wat sommiges dink nie."
Cooper het ook 'n versoek aan hulle gerig om indringende introspeksie oor hulself te doen.
"Staan en bekyk jouself in die spieël en vra jouself af of dit die roete is wat jy verkies om te volg. Onthou, jou keuses beïnvloed jou en ander se lewens. Daar is 'n gesegde wat lui: Soos jy lewe, so sal jy sterwe," het sy beklemtoon.
Verder het sy hulle daaraan herinnner dat niemand te goed is om sleg te word nie, asook die teenoorgestelde.
"Gaan werk in jou tuin as jy nie weet wat om met jouself te doen nie. Tuinmaak is van die beste terapie vir 'n mens se ingesteldheid. Onthou, verandering kom deur aksie en nie deur die mond nie."
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'