Update Video
HEIDELBERG NUUS EN VIDEO - Die enorme skade wat vroeg Sondagoggend, 5 Desember deur stormsterk wind en reën aan die St Barnabas Anglikaanse Kerk in dié dorp aangerig is, het vererger na deurnagreën gedurende die nag tot Maandagoggend, 6 Desember.
Nog 'n deel van die eeu oue gebou se dak en toring het inmekaar getuimel en hope bourommel het op die altaar en preekstoel te lande gekom.
Volgens vader Chassley Fredericks, predikant en herder van die gemeente het hy voor 05:00 Sondag 'n oproep van 'n gemeentelid gekry wat hom van die gebeure ingelig het. Hy het genoem dat die polisie en die brandweer dadelik op die toneel was om dit af te sper en te beveilig.
Lede van die brandweer het hulle aangeraai om nie die perseel te betree nie omdat dit onveilig is.
Fredericks, wat Maandag op die perseel saam met van sy kerkraadslede, asook 'n ingenieur was, het gesê dat die skade soveel erger is as wat hulle aanvanklik gedink het dit sou wees.
Die toring en gedeelte van die dak het op die altaar ingertuimel.
"Die ingenieur praat van 'n tydperk van 'n jaar of meer. Hy noem ook dat die gebou moontlik gesloop sal moet word. Ons as gemeente staar 'n baie uitdagende tydperk in die gesig," het hy teleurgestel gesê.
Die kerk is as 'n historiese gebou verklaar.
'n Dringende beroep word op die gemeenskap gedoen om 'n finansiële bydrae te maak. Vir meer inligting kan Fredericks (028 722 2737) geskakel word.
Video: Historiese kerk se toring tuimel in:
Die skade aan die toring kan hier duidelik gesien word na die deurdrenkende reën wat heelnag neergestort het.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'