RIVERSDAL NUUS - Jessie, die afskeephond wat net die swaarkry van die lewe ervaar het, is op Maandag 31 Julie dood.
Sy is in haar nuwe hok dood aangetref. 'n Nadoodse ondersoek het bevestig dat sy aan 'n hartaanval dood is. Dit blyk of sy met 'n oorerflike hartkondisie gebore is.
Suid-Kaap Forum het op 14 Julie 'n voorbladberig met 'n foto van 'n erg verwaarloosde nege maande oue Boerboel-teef geplaas. Dit het driftige reaksie uit die gemeenskap ontlok.
Sandra Lotz van Riversdal se Community Animal Rescue Society (CARS) sê Jessie se dood was vir hulle verpletterende nuus.
"Dis seer om daaroor te praat. Ons het uiteraard nie geweet sy het 'n onderliggende hartsiekte nie en het voortgegaan om haar met gesonde kos en volop aandag en liefde weer terug te help na 'n normale hondelewe.
"Maandag was 'n verskriklike dag. Jessie het Maandagoggend nog heel normaal voorgekom. Sy was spelerig en het nog opgewonde geblaf, maar toe kry ons haar later dood in haar hok."
Maar, sê Sandra, Jessie se dood kan nie aan eksterne faktore toegeskryf word nie en dis hoekom sy aanvanklik so gesukkel het om gewig op te tel.
Sandra vertel Jessie het die afgelope tyd tog mooi gewig begin optel. "Dit het aanvanklik maar stadig gegaan en ons het haar kos stuksgewys begin vermeerder. Sy is ook elke Vrydag geweeg en ons het haar elke tweede dag besoek om seker te maak sy is goed versorg en dat sy drie keer per dag kos kry."
'n Houthok en warm kombers is ook geskenk en die volgende plan was om vir haar 'n warm jassie aan te skaf. "Maar ons mikpunt was om haar by 'n veearts te kry sodat sy op 'n drup geplaas kan word. Maar die veeartskostes is net te duur en die eienaar kan dit ook nie bekostig nie."
Irene Thompson by die nuwe hok wat sy vir Jessie geskenk het. Teen dié tyd het Jessie al 900 gram opgetel na haar dieet aangepas is en sy gesonder kos gevoer is danksy die ingryping deur Cars.
Sandra sê hulle het dus maar voortgegaan om haar gereeld te monitor en met die laaste weegslag het sy 900 gram opgetel. "Ons het haar ook met medikasie behandel, onder andere vir bosluisbytkoors (Erlichia). Die eienaar het ook sy deel gedoen en gehou by CARS se voorskrifte.
"Ons doel was om vir Jessie die hond te maak wat sy verdien het om te wees."
Sandra sê baie ontstelde mense het haar gevra om vir Jessie weg te neem en vir haar 'n ordentlike huis te kry waar sy goed versorg kan word. "Maar dis nie die oplossing vir dié probleem wat wydverspreid in Hessequa voorkom nie," sê sy.
"As ons die hond wegneem, wat leer die eienaar oor die hele episode? Ons kan ongelukkig nie mense leer om hul diere lief te hê nie, maar ons kan hulle wel leer om vir hul diere te sorg. CARS wil liewers beter leiding gee sodat eienaars met diere op die ou einde beter mense kan wees.
"My doel op aarde is om vir elkeen iets positiefs te laat bereik. Ek glo Jessie se eienaar stap hier uit as 'n beter mens. Hy was tog lief vir Jessie en sy erg oor hom.
"Maar ek glo sy is nou op 'n beter plek."
Jessie wat onder haglike onstandighede aangehou is voordat weldoeners van die Riversdal Cruelty Animal Rescue Society (CARS) hul oor die nege maande oue Boerboel-teef ontferm het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’