RIVERSDAL NUUS - Wat het geword van Jasmine September se fiets?
En waar is Moos Louw, haar saamleefmaat, wat haar op sy fiets van Soetmelksrivier af dorp toe gebring het voor albei nuwe fietse ontvang het?
Suid-Kaap Forum het met haar gaan gesels om uit te vind wat van haar fiets - en Moos - geword het, want die afgelope tyd stap sy alleen die 15 km dorp toe en terug.
“My gesondheid is op die oomblik nie te goed nie en ek kan nie fietsry nie,” sê sy. “Sodra ek gesond is, sal ek weer my fiets gebruik.”
Hoekom bring Moos, haar wederhelf van meer as 30 jaar en die pa van hulle vyf kinders, haar nie meer dorp toe soos hy jare lank gemaak het nie?
“Moos praat nie op die oomblik met my nie,” vertel sy, maar gee nie ’n rede vir sy swye nie. “Ek bly nog in ’n kamer in die huis op die plaas waar hy werk, maar ons praat nie, nou stap ek maar elke oggend werk toe en saans weer terug.”
Die paar wat gereeld op die N2 vanaf Soetmelksrivier na Riversdal gery het, het in Oktober verlede jaar redakteur Wilma Adamson se aandag getrek en sy het verkeie berigte in die koerant oor hulle geskryf. Na aanleiding daarvan het verskeie weldoeners, ook van oorsee, vir die twee nuwe fietse geskenk. Hulle het ook fietsvalhelms, onderdele en fietstoebehore gekry.
Moos Louw en Jasmine September by die fietse wat hulle van weldoeners ontvang het. Foto: Wilma Adamson
Lees vorige artikels hier:
- Ongekende vreugde oor nuwe fiets
- Moos en Jasmine kry hulp uit alle oorde
- Moos en Jasmine raak harte aan
- Liefde is... om jou vrou op 'n fiets werk toe te ry
- Liefde is om fiets te trap vir jou vrou
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'