STILBAAI NUUS - Aangesien die dorp en omgewing as ’n aftreebestemming bekendstaan maak ouer persone ’n hoë persentasie van die inwoners uit. Die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika (1996) en spesifiek die Wet op Ouer Persone Wet 13 van 2006 bepaal onder meer dat alle ouer persone geregtig is op demokratiese waardes van menswaardigheid, gelykheid en nie-diskriminasie.
“Om toe te sien dat die ouer persone in die dorp, Melkhoutfontein en Jongensfontein toegang tot hierdie regte het is Jagersbosch trots om aan te kondig dat ’n nuwe diens gestig is wat as Jagersbosch se Gemeenskapsorgafdeling bekend sal staan,” sê Izak Venter namens die direksie van Jagersbosch Gemeenskapsorg.
Die nuwe diens sal poog om deur ’n toeganklike, billike en bekostigbare diens ouer persone in die gemeenskap holisties en met die spesifieke fokus op hul psigiese welstand te ondersteun. Die doel is om hulle in staat te stel om so lank as moontlik onafhanklik in hul persoonlike woning te woon.
Ten einde ’n waardevolle bydrae tot die lewensgehalte van ouer persone te lewer, word beoog
• Om strukture te vestig wat kan voorsien in die behoeftes van ouer persone;
• Om ’n omgewing daar te stel wat voldoen aan ouer persone se veranderende behoeftes;
• Geleenthede te skep wat bevorderlik sal wees vir die optimale funksionering van ouer persone se sosiale, liggaamlike, verstandelike en emosionele welstand;
• Om ouer persone in staat te stel om deel te neem aan ’n gemeenskapslewe en aktiwiteite ooreenkomstig met sy/haar belangstellings en vermoëns;
• Om die familie van die ouer persoon te ondersteun en ook te betrek by die ondersteuning van die ouer persoon.
Afhangende van die behoeftes van ouer persone, word die volgende dienste beplan
• Tuisbesoeke vir die assessering van behoeftes wat versorging, emosionele ondersteuning en berading insluit;
• Mobilisering van dienste en toekomsbeplanning vir ouer persone wat sorg-afhanklik is;
• Individuele en groepsaktiwiteite wat musiek, danse, speletjies, kuns, fisiese oefeninge, uitstappies, ken-mekaar-dae, deel van stokperdjies en dies meer insluit.
• Ondersteuning aan huweliksmaats en eksterne familie;
• Ondersteuningsgroepe vir ouer persone en familielede wat trauma en verliese ervaar het.
Die nuwe diens is slegs aan lede van Jagersbosch Gemeenskapsorg, wie se direksie deur dr. Nina du Toit verteenwoordig word, beskikbaar.
Daar word hard gewerk om die administrasieproses gereed te kry en huidige lede wat by hierdie diens baat kan vind te identifiseer.
Marilize van Zyl, bygestaan deur Annalie van Niekerk en Sharon Lofthouse, is aan die hoof van die nuwe afdeling. Ter voorbereiding van die administratiewe proses kan lede van Jagersbosch ’n besoek van die nuwe personeel verwag.
Vrywilligers: Die hulp van vrywilligers sal in die toekoms benodig word. Hulle sal basiese taak-gefokusde opleiding en ondersteuning van hoogs gekwalifiseerde maatskaplike werkers ontvang. Meer inligting oor hul rol sal gekommunikeer word sodra daar aan al die administratiewe vereistes voldoen is.
“Onthou, Jagersbosch se dienste is bekostigbaar - sluit vandag nog aan. U ledegeld help ’n ouer persoon in sy nood,” sê Venter.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'