RIVERSDAL NUUS - 'n Dag vol landbou, natuur, uitdagings en pret het deelnemers op Saterdag 1 Augustus na die platteland rondom Riversdal gelok toe Saamstaan-landbouvereniging sy jaarlikse tydren aangebied het.
Die roete het deelnemers deur verskeie plase geneem, waar hulle die streek se pragtige graan- en kanolalande kon bewonder.
Die roete het ook verskeie veldpaaie ingesluit, met deelnemers wat onder meer die fynbos en renosterveld van die omgewing kon sien.
Elke deelnemer het 'n vraestel met interessante vrae ontvang wat tydens die tydren beantwoord moes word.
Die antwoorde sou uiteindelik bepaal wie as wenner van die tydren gekroon word.
Verskeie waterpunte is langs die roete ingerig, waar deelnemers kon verfris en aan aktiwiteite deelneem om die dag nog meer interessant te maak.
Volgens die organiseerders was die dag 'n groot sukses.
Saamstaan-landbouvereniging het sy bestuur en lede bedank vir hul harde werk en ondersteuning, asook die borge wat tot die sukses van die geleentheid bygedra het.
Hi Way Bande was die hoofborg, terwyl Toyota Riversdal, Rola Ford Riversdal, SSK Riversdal en Gunter Elektries Riversdal as borge by die waterpunte opgetree het.
Ander borge was JC Slagtery, Jireh Foods, Baleia Wines, JC Skip en Mass Hire.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’