STILBBAAI NUUS - Dis nie aldag dat iemand 101 jaar oud word nie en Suid-Kaap Forum het Irish Hamel op Donderdag 15 Maart persoonlik gaan gelukwens en 'n geskenk aan haar oorhandig met dié groot hoogtepunt en mylpaal in haar lewe.
Twee van haar dogters, Lemeh Joubert (78) van Secunda en Merle Harvey (75) by wie sy woon, asook 'n kleindogter, Elena Stevens van Secunda was by haar toe Suid-Kaap Forum 'n geskenk aan haar oorhandig het.
Irish se jongste dogter is reeds oorlede. Sy het 12 kleinkinders en daar is blykbaar al heelparty agter-kleinkinders.
Irish het op Tsaneen grootgeword. Sy en haar man, Ludick het met papajas en avokadopere geboer en dit ook uitgevoer.
Hulle het in 1984 na Stilbaai verhuis. Ludick het haar ongeveer 18 jaar gelede ontval.
Volgens Irish is haar resep vir 'n lang en gesonde lewe baie oefening en stap. ''Ons het destyds nie karre gehad nie en het geleer om oral heen te stap.''
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'