HEIDELBERG NUUS - Inwoners van Heidelberg se senuwees is op hol nadat dit rugbaar geword het dat ‘n vuurwapen nou al vir langer as ‘n week vermis word.
Gerugte doen die ronde dat dié vermiste vuurwapen deur ‘n lid van die publiek by die polisiestasie ingehandig is. Die rede vir die inhandiging is nie bekend nie.
Bekommerde inwoners vrees dit kan dalk lei tot ‘n herhaling van ‘n voorval in 2000 toe ‘n gesteelde of vermiste vuurwapen tot die moord van ‘n 72-jarige vrou gelei het.
Sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sê Heidelberg-polisie het ‘n saak van diefstal geopen en dat die voorval ondersoek word.
Volgens Spies beskou die distrikspolisiebestuur die voorval as ‘n ernstige saak en is ‘n beampte van die distrikskommissaris se kantoor vir die saak aangewys.
Spies het ook bevestig dat ‘n interne ondersoek ook van stapel gestuur is oor die gedrag van lede wat verantwoordelik is vir die veilige bewaring van vuurwapens.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’