Gallery Update
JONGENSFONTEIN NUUS - Die kusopruimingsaksie wat op 16 September, Wêreldkusopruimingsdag uitgestel is as gevolg van reën, het Saterdag 30 September plaasgevind.
'n Groot groep vrywilligers het by Seesig Supermark bymekaargekom waar Naas Palmer, voorsitter van Jongensfontein Inwonersvereniging die dag se reëlings deurgegee het.
Almal is met voertuie na die beginpunt, wes van die kusdorpie geneem waar die staproete na Blombos begin.
Hulle is in drie spanne verdeel wat elk 500 m se strand skoongemaak het.
"Ons het in totaal 1,7 km-strand skoongemaak, waar die munisipaliteit by die eindpunte al die sakke bymekaargemaak het.
"Hulle het ook groot stukke plastiek en dromme langs die kus verwyder. Hessequa-burgemeester, Grant Riddles, het ook saam met ons vullis opgetel," vertel Miranda van Aardt van die Coastal Clean-up Conservation.
Nadat elke span klaar opgeruim het, het hulle na die beginpunt teruggestap waar hulle weer na die supermark teruggeneem is.
"Terwyl ons gery het, het die kinders lekker vir ons gesing."
Laerskole Bertie Barnard en Melkhoutfontein, asook Ouma Lena se huis het elk R5 000 ontvang wat deur 'n anonieme borg geskenk en deur Palmer en Riddles oorhandig is.
Daarna is almal na die karavaanpark waar almal 'n koeldrank, water, worsrolletjie en kolwyntjie geniet het.
Die spanne is in groepe opgedeel en na die verskillende punte vervoer.
"'n Groot dankie aan Chris vir die swart sakke, Stephanie vir die kolwyntjies, Nico wat die kinders op Melkhoutfontein op- en afgelaai het, Johan, Frans en Gerald vir die lei van skoonmaakspanne, André, Christo en hul span wat gebraai het terwyl ons die kus opgeruim het, al die vrywilligers en die kinders wat hulle Saterdag opgeoffer het om die kus op te ruim."
Van Aardt en Palmer bedank ook die munisipaliteit vir die werkers wat gehelp en voertuie verskaf het, asook die besighede wat hulle geborg het.
Die vrywilligers doen hul deel.
Lees 'n vorige artikel: Vullis langs kus opgeruim
'Ons bring jou die nuutste Jongensfontein, Hessequa nuus'