HEIDELBERG NUUS - Inbrake in Heidelberg besorg die plaaslike polisie slapelose nagte na daar by nóg wonings en instansies ingebreek is.
Volgens die polisie het diewe Donderdagnag, tussen 18 en 19 Junie by drie persele ingebreek, waaronder 'n stoorkamer van 'n woning in Van Riebeeckstraat, die kantore van Kindersorg, asook die JF Neumann Memorial Congregational kerk.
By Kindersorg is toegang by die voorste venster verkry deur die diefwering oop te breek.
Die inhoud van die kaste en laaie is uitgegooi, waarskynlik in die diewe se soektog na kontant. Glenda Pretorius, voorsitter van Kindersorg het gesê in dié stadium vermis hulle 'n skootrekenaar en radio. "Die diewe het baie skade aangerig en het hulle ook probeer om die kluis te verwyder, wat op die vloer gevind is."
Tydens die inbraak in Van Riebeeckstraat is vleis van ongeveer R3 000 gebuit, waarvan ongeveer R2 000 s'n teruggevind is met die in hegtenisname van twee verdagtes, waarvan een 'n werknemer van die eienaar is.
By die kerk is blykbaar niks gesteel nie, maar die inbrekers het ook wanorde gesaai deur alles uit te gooi.
Naweek
'n Woning in Mervyn Josephstraat, Joe Slovo Park het tussen 19 en 20 Junie deurgeloop toe diewe 'n platskerm televisie en selfoon gebuit het. Volgens sersant Whitey Solomon van die polisie se speur-afdeling, die ondersoekbeampte in die sake, is by 'n onbewoonde woning in Eksteenstraat gedurende die naweek van 20 tot 21 Junie ingebreek. Die eienaar woon by iemand op die dorp na haar eggenoot se afsterwe.
'n Poging is ook aangewend om by 'n bekende restaurant langs die N2 in te breek, maar die kwaaddoeners kon nie daarin slaag om die diefwering te verwyder nie. Personeel van Kindersorg, wat aangrensend tot Neskuikentjie-kleuterskool is, het Maandagoggend opgemerk dat 'n venster van die skool oopstaan, maar dit is nie seker of daar wel ingebreek is nie.
Adjudant-offisier Alroy Windvogel, plaaslike kommunikasiebeampte doen 'n dringende beroep op inwoners om nie 'n mark vir die misdadigers te skep deur enigiets aan te koop wat vermoedelik gesteel is nie. Enigeen met inligting kan die polisiestasie (028 722 1910 of 028 722 8227) skakel, of met sers Solomon (084 661 1155) in verbinding tree.
Sersant Gordon Ntonzini besig om 'n verklaring af te neem.
Die venster waar toegang tot die kantoor verkry is.
Die diewe kon waarskynlik nie die kluis oopkry nie,
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'