MELKHOUTFONTEIN NUUS - Die afsterwe van Elizabeth Kortje (83) van Melkhoutfontein op Vrydag 20 Junie, is 'n skakel van die opvoedingsketting in Botterkloof, distrik Stilbaai, wat gebreek het.
Elizabeth Ruiters is gebore in Ceres. Sy behaal haar junior sertifikaat en bekwaam haarself as onderwyser aan Sohnge Onderwyskollege op Worcester. Sy gee onderwys aan Melkhoutfontein Engelse Kerkskool en ontmoet haar eggenoot hier, wyle John Kortje, bekend as John Vissie. By die gemeenskap staan sy as juffrou Bettie bekend. Uit die huwelik word 10 kinders gebore, waarvan vyf reeds oorlede is.
In 1981 begin sy onderwys gee by Botterkloof Primêr, onder leiding van Brenda Neate. Marius Stander sluit later by die personeel aan en word hy in 1996 prinsipaal.
In 1999 gaan juffrou Bettie op 65-jarige ouderdom op pensioen. Op geestelike vlak was sy 'n aktiewe lid van St Augustine's se Moedersunie.
'n Dankseggingsdiens om die stil, merkwaardige persoon met die breë glimlag en diens aan die gemeenskap te vier, het Saterdag 28 Junie plaasgevind. Eerw. Johan Fielies het die diens waargeneem.
'Ons bring jou die nuutste Melkhoutfontein, Hessequa nuus'