RIVERSDAL NUUS - Hessequa-munisipaliteit ontvang tans talle klagtes en navrae gebaseer op die munisipaliteit se heffing van basiese elektrisiteitstariewe in die lig van voortdurende beurtkrag wat deur Eskom geïmplementeer word en die gevolglike nie-beskikbaarheid van krag.
Die implementering van beurtkrag deur Eskom is inderdaad 'n kommerwekkende situasie, nie net vir die munisipaliteit nie, maar vir al die munisipaliteite in die land aangesien munisipaliteite maandeliks vaste kostes aangaan wat steeds betaal moet word, ongeag of daar enige krag verbruik word.
Beurtkrag het dus nie net 'n geweldige negatiewe impak op die inwoners in die Hessequa-gebied nie, maar ook op die munisipaliteit.
Maandelikse vaste koste sluit, onder andere, in eksterne rente en delging wat op lenings betaal word vir die vestiging van historiese en huidige elektriese infrastruktuur, herstel en onderhoud, personeel-koste om die infrastruktuur in stand te hou, versekering op infrastruktuur, asook die maandelikse vaste koste op die munisipaliteit se elektrisiteitsrekening wat aan Eskom betaalbaar is.
Eskom hef die munisipaliteit op sy maksimum aanvraag per maand, wat 'n wesenlike invloed het op die munisipaliteit se Eskom-rekening aangesien die Hessequa-munisipale gebied vier gewilde vakansiedorpe insluit wat baie lae verbruike buite seisoen het, maar hoë verbruike gedurende vakansieperiodes ervaar.
Die impak van Eskom-kragonderbrekings op die munisipale begroting is astronomies aangesien daar noodgedwonge addisionele kragopwekkers aangekoop moes word ten bedrae van ongeveer R6 miljard om te verseker dat water, riool en administratiewe dienste kan voortgaan ten spyte van die aanhoudende kragonderbrekings.
Die impak van, onder andere, die verhoogde dieselverbruik op die munisipaliteit se 2022/2023-begroting word op ongeveer R13 miljard geskat. Hierdie addisionele uitgawes kan nie verhaal word uit huidige tariewe nie en reserwe fondse sal dus aangewend moet word om hierdie tekort te finansier.
Dit is spesifiek om dié voorafgaande redes hierbo wat Hessequa-munisipaliteit nie enige afwaartse aanpassings of kortings op die huidige goedgekeurde elektrisiteitstariewe kan toestaan nie. Die munisipaliteit is voort-durend besig om maatreëls in plek te stel om elektrisiteit so effektief en ekonomies as moontlik te bestuur.
Dit sluit in die vervanging van straatligte met LED-ligte, die opgradering van elektriese netwerke om elektrisiteitsverliese tot die minimum te beperk, en die jaarlikse investering van sonkragstelsels vir munisipale geboue. Daar word weer voorsiening gemaak vir hernubare energie in die konsepbegroting vir 2023/2024.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'