Dit is ook om ondersteuning te gee aan diegene wat huidiglik saam met die gevreesde virus leef. Nagenoeg 300 inwoners en besoekers van Slangrivier het die diens in die JF Neumann Memorial Congregational kerk bygewoon. Dié diens, wat buiten verlede jaar jaarliks plaasgevind het, maak deel uit van die plaaslike kliniekkomitee se MIV/Vigs bewusmakingsveldtog om ontslae te raak van die stigma wat steeds aan die siekte kleef.
Verskeie plaaslike instansies waaronder kerke, skole, welsynorganisasies, asook verskeie sport- en kultuurkodes het die verrigtinge ondersteun wat deur past. Martin Meyer met gebed geopen is. Sang-, dig- en dansitems is deur verskeie groepe gelewer. Shalmay Meyers het die verwelkoming waargeneem terwyl Leon Page, voorsitter van die kliniekkomitee, as seromoniemeester opgetree het. Die Young Royal Shepherds Kersfeeskoor het die openings- en sluitingslied gespeel.
Sr Desiree van Deventer van die plaaslike daghospitaal, wat meer as 30 jaar die plaaslike gemeenskap bedien, was die gasspreker. Tydens haar deernisvolle toespraak het sy 'n ernstige pleidooi aan al die aanwesiges gerig om meer passievol na diegene uit te reik wat deur die pandemie getref is. "Hoekom reageer ons anders oor Vigs as oor ander siektes?" het sy gevra.
Sy het die aanwesiges daarop gewys dat mense maklik skinder van diegene met die virus, in plaas van om hul liefde deur hul dade aan die geaffekteerdes uit te deel.
Volgens Van Deventer word daar weekliks ten minste twee mense in die Heidelberg-distrik positief getoets, wat meebring dat daar jaarliks ongeveer 100 nuwe gevalle is. Dit, volgens haar, is baie kommerwekkend. Sy het ook benadruk dat hoe gouer ons openlik oor ons status is, hoe gouer gaan die pandemie kortgeknip word. Sy het ook gewaarsku teen diegene wat die kliniek en personeel opsetlik vermy om op medikasie te gaan, omdat hulle bang is dat hul gestigmatiseer sal word. Sy het hulle aangemoedig om hul siekte te aanvaar, te verwerk en sodoende te hanteer.
Net voor die nagenoeg 40 instansies se verteenwoordigers hul kerse aangesteek het, is die Vigsgebed deur vader Eben Pretorius aan die aanwesiges voorgehou.
FOTOGALERY

Young Royal Shepherds word deur Richard Meyer gedirigeer
ARTIKEL: CLIVE PRETORIUS
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'