HEIDELBERG NUUS - Die pampoenkompetisie het al in 2008 begin, maar die Groot Pampoenfees word eers die afgelope agt jaar gehou.
"Die fees se opbrengs gaan aan liefdadigheidsprojekte op die dorp," sê Altus Joubert, 'n boer van Slangrivier en voorsitter van die komitee wat die fees reël.
Wat is die geheim vir die kweek van 'n groot pampoen?
Vir Hendrik Kotzé en Johann Brits van die Starke Ayres-navorsingstasie by Lategansvlei buite Oudtshoorn is goeie saad belangrik. Volgens Kotzé maak hulle die wenpampoene se saad skoon en hou dit droog in 'n pakhuis. Dit word aan voornemende kwekers wat wil inskryf verskaf. "'n Pampoen wat oor 90 dae ontwikkel, groei tot 4,4 kg per dag," vertel hy. "Al pamperlang jy jou pampoene, gebeur dit soms dat die stingel kan afbreek en dan hou jou pampoen op groei."
Deelnemers aan die kompetisie is dit eens dat passie die kernbestanddeel is. "'n Mens moet elke dag na jou pampoen kyk," sê Nico de Jager Junior van Mooisig-kleinhoewes buite die dorp. Hy het eers die sade in watte laat ontkiem en dit toe sowat 10 cm diep in grond wat met beesmis en ureum voorberei is, geplant. Hy het die pampoenplant elke dag sowat 200 liter gegee.
Cobus Willemse van Heidelberg het vanjaar vir die vyfde keer deelgeneem. Hy het die pitte van een van sy eie groot pampoene gebruik, en beesmis, kompos, kunsmis en blaarvoeding toegedien. Hy het ook teen siektes en insekte gespuit.
Elna Fourie van Swellendam het ook 'n pampoen ingeskryf. Sy het 'n groot gat gemaak en die grond goed voorberei. "Dis die eerste keer wat ek deelneem."
"Ek is lief vir my pampoen," sê Elna Fourie van Swellendam wat dié ou knewel gekweek het. Foto's: Tisha Steyn
Nico de Jager Junior van Heidelberg het sy pampoen tot 200 liter water per dag gegee.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'