RIVERSDAL NUUS - Dr John Muir is op 18 Junie gebore in Castle Douglas in Skotland. Sy huis in Steynstraat op Riversdal se naam is Leeuwaarden, wat die hoofstad van Friesland is vanwaar mev. Muir se voorgeslagte, die Steyns, gekom het. John Muir het op 22-jarige ouderdom na Suid-Afrika gekom.
Muir was eerstens 'n mediese dokter, wat homself totaal vertroud gemaak het met Afrikaans, wat hy van nuuts af moes aanleer.
Hy het selfs so ver gegaan om sy dogter as skoolleerling te kry om vir hom twee keer per week Afrikaanse lesse te gee.
Hy het ook as botanis, wat nuwe plante ontdek het, Afrikaanse volksname vir plante wat hy in die distrik van Riversdal ontdek het gegee.
Talle plante dra ook sy naam, soos Euphobia Muirii, of sy vrou (sy was Hortense, née Slabbert) s'n, soos Muiria Hotenseae, of wat na sy dogter heet, soos Euphobia Susannae, wat eintlik deur mev. Muir ontdek is.
In 'n artikel wat in die Fleur van Februarie 1948 verskyn het, wat deur N. van Blerk geskryf is, noem hy dat dr John Muir "die navorsing en optekening van die volksname vir plante en diere (en later self voëls) as 'n saak van die grootste belang beskou het. Hy was 'n oplettende en kritiese leser van Afrikaanse boeke... ore gespits as die gewone mense praat en hy hulle dan uitgevra het ten einde sy kennis van Afrikaans uit te brei. Volksmusiek bv. is 'n onafskeidelike deel van die Afrikaanse taal. Dit lê die siel van die volk bloot."
Hy was ook 'n kultuur-historiese mens en sy huis het dit weerspieël, met die mure behang met talle ou kaarte. Hy het ook vele ou meubels van solders af gered wat daar beland het omdat mense meer moderne meubels wou aanskaf.
Versamelings het ook vir hom bekendheid laat verwerf. Hy het seebone 'ontdek' wat op die strand by Stilbaai uitgespoel het.
Die seebone, wat in 'n omhulsel soos 'n ertjiedop van so 70 cm lank is, kom oorspronklik van Mosambiek.
Vir die werk wat hy oor seebone gedoen het, het hy 'n graad, wat die Universiteit van Edinburgh aaan hom wou gee, verwerp.
Hy het ook skulpe, en selfs die kleinste skulpies denkbaar (kleiner as 'n vuurhoutjie se kop), versamel. Hy het sekerlik baie geweet van Riversdal se geskiedenis deur inligting na te spoor in ou geskrifte, die ouer geslagte uit te vra en foto's te bewaar, veral van Louis Henri Meurant, een van die dorp se kleurrykste inwoners.
Dr John Muir is op 4 Augustus 1947 hier oorlede.