STILBAAI NUUS - Stilbaai Coastal Clean Up en die Stilbaai-buurtwag het met hulle skoonmaakaksies in die dorp se groen stroke agtergekom dat die meeste rommel van huishoudings se vullissakke afkomstig is.
Haweloses sleep die vullissakke na die groen gebiede en dit word dan daar oopgeskeur in hulle soeke na kos en ander waardevolle artikels. Die gemors word dan net daar gelos.
Clifton Donald van Stilbaai Coastal Clean Up vra dat inwoners hul vullissakke eers in die oggend moet uitsit en nie die vorige aand of dae voordat die vullis-verwydering in hulle area gedoen word nie.
Dit sal help om die strooi van rommel te verminder aangesien die haweloses in die nag rondloop om die sakke bymekaar te maak. Die ou kos in die vullissakke is darem glad nie gesond nie en kan mense ernstig siek maak of selfs erger.
Alhoewel daar baie simpatie is vir die haweloses moet inwoners asseblief nie geld, klere of kos aan hierdie mense gee nie.
Probeer eerder om hulle by Badisa te kry aangesien hulle personeel opgelei is om die probleme te ondersoek of om hulle by die skuiling vir haweloses in Riversdal te kry.
Klein gedeelte van die gemors in daardie groen strook.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’