Update
HESSEQUA NUUS - Barbarians-rugbyklub het Saterdag 23 Junie in hul tuiswedstryd in die SWDRU-premierliga Heidelberg hard aarde toe gebring met 'n naelskraapse oorwinning van 30-27.
Hoewel Heibi met rustyd 18-13 voorgeloop het, kon hulle nie die mas opkom nie.
Die lojale ondersteuners het in hul hordes opgedaag en die keer met hul orkes die paviljoen met tuisskare en al laat saam sing.
Heidelberg het die eerste punte in die vierde minuut met 'n strafskop deur Pietie Uys (heelagter) hul SWD o.19 veelsydige agterspeler, aangeteken. Dit was ook die enigste keer wat hulle voor was op die telbord.
Die wedstryd het baie belangstelling gelok het omdat beide spanne die tweede plek wou verseker. Heibi kan egter net hulself blameer vir die verloor. Verkeerde keuses op kritieke tye het hulle duur te staan gekom en het hulle sodoende Baa-Baas toegelaat om 'n bonuspunt te verkry.
Uys het met nog 'n strafskop in die 32ste minuut die telling op 8-6 gebring. Justin Bhana (regtervleuel) het in die 35ste minuut die eerste van sy driekuns drieë gaan druk.
Heibi het na twee minute met 'n drie deur Gershom van Rooyen (regtervleuel) wat ook deur Uys verdoel is, teruggekap om die telling 13 elk te maak. Bhana het egter in die doodsnikke van die eerste helfte sy tweede drie gaan druk om sy span 'n vyfpunt voorsprong teen rustyd te gee.
Binne twee minute na aanvang van die tweede helfte het Bhana sy driekuns voltooi nadat die besoekers weer ongedwonge hanteerfoute begaan het. Saayman het Baa-Baas se vyfde en laaste drie in die 74ste minuut gaan druk. Dit is deur Morné Buis (skrumskakel) verdoel om met 30-13 voor te loop.
Simon du Toit word deur ’n opponent lastig geval terwyl hy die bal vir sy spanmaats plaas om dit verder te dra. Marcel Marais, Fernholdt Buis en Jason Liebenberg is die Heibi-spelers wat kom hand bysit.
Heibi het egter nie gaan lê nie en aanhoudend druk toegepas in die laaste paar minute. Hulle is met twee drieë deur onderskeidelik, Marquit September (senter) en Martin Hartnick (plaasvervanger slot) in die doodsnikke beloon. Uys het beide drieë verdoel om 'n waardevolle bonuspunt te verseker.
Heibi sal seer sekerlik die week wat voorlê gebruik om aan hul foute te werk om sodoende 'n veel beter en afgeronde vertoning volgende Saterdag 7 Julie in hul wegwedstryd teen Groot-Brak te lewer.
In die eerste wedstryd van die dag het Baa-Baas se derde span met 29-7 koning gekraai nadat hulle rustyd met 19-0 voorgeloop het. Heibi se puntemakers was Leigh-Roskey Domingo met 'n drie en Veandré Carelse wat dit verdoel het.
Lindon Hartnick rank hoog om die bal te bemeester in die lynstaan. Foto's: Clive Pretorius, korrespondent.
Heidelberg se tweede span het ook die knie met 16-10 gebuig teen die tuisspan, nadat die tuisspan gerieflik teen rustyd met 16-0 voorgeloop het. Hulle het egter hard teruggekom in die tweede helfte, maar, kon net nie daarin slaag om die bordjies te verhang nie.
Lees 'n vorige artikel: Heibi nie meer onoorwonne
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'