STILBAAI NUUS - Hoewel nasionale hamburgerdag reeds in Mei was, het Stilbaai Spar besluit om dit verlede maand te vier - en watter beter manier as om hamburgers te maak!
Daar was ses verskillende stalletjies regdeur die winkel op Maandag 27 Augustus om van te kies en te keur.
Die Plaasburgers was van roosterkoek gemaak, terwyl die SA Ribburger natuurlik 'n ontbeende rib-patty gehad het. Die Tops-burger het uit 150 gram gedraaide boerewors bestaan, vasgemaak met 'n sosatiestokkie, terwyl Hawaiian-burgers, Spar Biefburgers en Visburgers ook beskikbaar was.
Die personeel kon pryse in drie kategorieë wen: Die Hawaiian-burgers het die beste verkoop en het die eerste plek verower, gevolg deur die Visburgers en die Tops-burgers in die derde plek. Die Visburger-stalletjie het met die prys vir die beste stalletjie en kleredrag weggestap, terwyl die Tops-burgers die mees kreatiewe stalletjie was. Volgens die eienaar, Peet van Staden, was die dag 'n reusesukses.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'