Gallery
RIVERSDAL NUUS - Die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het Saterdag 3 November 'n gemeenskapsfunksie by die burgersentrum en Thusong-sentrum aangebied.
Verskeie rolspelers wat wissel van plaaswagte, buurtwagte en polisielede het dié spoggeleentheid bygewoon. Die doel was om verhoudings tussen die polisie, GPF en die gemeenskap te bevorder en te versterk.
Die fokus was op die tema: Veiligheid is almal se verantwoordelikheid, gerig. By die burgersentrum het die gemeenskap, waaronder kinders en volwassenes, onder andere na 'n praatjie van Mosselbaai se honde-eenheid geluister. Hier is verduidelik watter soort honde die polisie gebruik.
GPF-voorsitter Beth Paine het gesê: "Ons moet onthou dat ons as gemeenskap die polisie help deur 'n verlenging van hul oë en ore te wees."
Kapt. Alroy Vincke het tydens 'n aansitete by die Thusong-sentrum verduidelik watter soort gesinsgeweld daar is. Hy het dit duidelik gemaak dat dit nie slegs vroue en kinders is wat onder mishandeling gebuk gaan nie.
Selfs Kersvader het 'n draai by die sentrum gemaak om geskenkpakkies aan behoeftige kinders te oorhandig.
Leerders van Small Dreams-skool vir leerders met spesiale behoeftes, het geskenkies aan persone oorhandig wat deur Paine bedank is.
Lees 'n vorige artikel: GPF bederf inwoners
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'