Update Video
RIVERSDAL NUUS - "Glo in jouself, dan sal ander ook in jou glo."
So sê André Koen wat vanjaar vir die vyfde keer aan die Outeniqua-rolstoelwedren (OCC) deelneem.
Hy is in Oktober verlede jaar tot ondervoorsitter van die Disabled Road Race Foundation verkies. Die stigting reël die wedren wat op 15 Februarie plaasvind.
Koen is die afgelope 30 jaar 'n kwadrupleeg sedert hy kort voor sy 17de verjaarsdag sy nek gebreek het. Voor sy ongeluk was hy 'n kranige langafstandatleet, maar tot in 2015, toe hy saam met sy ouers Barry en Johanna hierheen verhuis het, was hy nie by georganiseerde rolstoelaktiwitete betrokke nie.
Die gogga het gebyt toe hy in 2015 'n handfiets op die dak van 'n motor in 'n parkeerplek vir gestremdes by 'n winkelsentrum gesien het.
Uiteindelik het hy vir hom 'n handfiets gekoop en in 2017 met 'n borgskap van 'n maatskappy in Kaapstad aan die Argus deelgeneem.
Kyk 'n video hieronder:
"Ek kon weens hitte-uitputting nie die 108 km klaar maak nie, maar ek het huis toe gekom en begin oefen." In 2018 het hy weer deelgeneem en die keer met 'n vriend se hulp klaargemaak.
Einde 2017 het Fanie Joubert van Riversdal vir hom 'n handfiets present gegee.
"Wanneer ek oefen is wyle oom Fanie altyd in my gedagtes," vertel die man met die blonde krulhare, sagte stem en innemende glimlag.
In 2016 het hy vir die eerste keer aan die OCC deelgeneem. Sedertdien het hy in twee brons-, een goud en een silwermedalje in die OCC se 42 km-resies verower.
Hy is sy ouers, sy weldoeners en veral sy vriende Dirk, Frans, Paul, Anton en skoolmaat Freddie eindeloos dankbaar. "Sonder hul hulp en ondersteuning sal ek nie kan fietsry nie."
Maar hy is allermins hulpeloos. "Al woon ek by my ouers, is ek baie selfstandig. Ek ry self rond neem my eie versorging waar, maak meestal my eie kos, maar deesdae is ek 'n bietjie lui... My pa vergesel my op sy bergfiets wanneer ek oefen."
Dis moeilik vir 'n gestremde om werk te kry. "Mense dink as jy in 'n rolstoel is, is daar iets met jou brein fout. Ek beskou myself nie as gestrem nie, my lewe is net vol uitdagings. Ek sal dit egter nooit aanvaar nie en ek gaan nié gelate wees daaroor nie - ek leef daarmee saam en werk hard om positief te bly. Jy moet jou kop regkry, anders is jou hele lewe onderstebo.
"Die lewe skuld jou niks. Ek het nog nooit toegelaat dat dinge my onderkry nie, al is dit nie altyd maklik nie. As jy in 'n hoekie gaan sit, sal jy vergaan..."
Lees 'n vorige artikel: Die lewe skuld jou niks
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'