MOSSELBAAI NUUS - Vier mans het vanmiddag, Woensdag 7 Julie, die poskantoor op Hartenbos beroof.
Volgens die polisie het die verdagtes, waarvan een met ‘n vuurwapen, en ‘n ander een met ‘n hamer gewapen was, die poskantoor om 12:10 binne gestorm.
Polisiewoordvoerder Kaptein Malcolm Pojie sê die verdagtes het mense binne die gebou gedreig en ‘n personeellid gedwing om die kluis oop te maak. “Die verdagtes het met ‘n onbekende bedrag kontant gevlug.” Die polisie se deskundiges is op die toneel en probeer nog vasstel of die mans te voet of met die hulp van ‘n voertuig gevlug het. Die Da Gamaskop-polisiestasie ondersoek die voorval.
Intussen, in ‘n onverwante voorval op Albertinia is ‘n voetganger vanmiddag tussen 14:00 en 15:00 deur twee mans in ‘n voertuig met ‘n vuurwapen gedreig waarna hulle hom gedwing het om sy selfoon te oorhandig. Die verdagtes het daarna weggejaag. Die polisie op Albertinia ondersoek ‘n saak van gewapende roof.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'