Update
HESSEQUA en NASIONALE NUUS - Hoewel geen statistiek vir individuele dorpe verskaf word nie, het dr. André Botha van Carewell-privaathospitaal op Stilbaai en segsman vir die Stilbaai-gemeenskapsgesond-heidsgroep wat die drie mediese praktyke insluit, per e-pos aan Suid-Kaap Forum gesê dat twee plaaslike gevalle wel getoets is.
Die mediese praktyk van dr. Karlien van Zyl is in selfisolasie, nadat een pasiënt volgens 'n plasing op haar Facebookblad positief vir die virus getoets het.
Sy en haar personeel toon nog geen simptome van die virus nie.
Botha sê die toetsproses vir die virus is tans problematies aangesien daar nog nie 'n plaaslike toetsfasiliteit beskikbaar is nie. Dit geniet wel dringende aandag.
Hy doen 'n ernstige beroep op inwoners om mediese praktisyns te help om die uitdaging so goed moontlik aan te pak. Dokters is onder groot druk om telefoonoproepe te hanteer, terwyl ander pasiënte meer alledaagse mediese probleme opdoen waarvoor hulle steeds behandel moet word.
Die belangrikste is volgens hom om by die riglyne te bly: "Bly by die huis, was jou hande, wees gaaf met mekaar, wees geduldig met mediese personeel wat probeer help onder moeilike omstandighede en gebruik die blitslyne vir navrae. 'n Groot deel van ons inwoners val in die hoë risikogroep."
Die aantal bevestigde gevalle van die koronavirus het Woensdag 1 April op 1 353 gestaan. In die Tuinroete is 21 positiewe gevalle aangemeld. Vyf persone in die land het aan die siekte gesterf - een in die Wes-Kaap, twee in Kwazulu-Natal, een in Gauteng en een in die Vrystaat.Volgens die hoofkommunikasiebeampte vir die Wes-Kaapse departement van gesondheid, Nadia Ferreira is dit tans nie regeringsbeleid om inligting oor gevalle per dorp te verskaf nie. Waar plekke soos George, Mosselbaai, Swellendam en Stellenbosch byvoorbeeld genoem word, sluit dit die omliggende dorpe in daardie distrik in.
- Spekulasie wat as waarheid verkondig word, kan jou in groot moeilikheid laat beland. Die verspreiding van vals gerugte is wetlik strafbaar en 'n skuldigbevinding kan tot tronkstraf van tot ses maande lei. Dis ingevolge regulasies wat op 18 Maart deur die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma afgekondig is.
Vorige artikel: Covid-19: Hessequa steeds op drie gevalle
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'