Video
HESSEQUA NUUS EN VIDEO - 'n Ervare oorlogsveteraan, generaal-majoor Roland de Vries het op Riversdal gesê dat daat in almal se harte 'n baie groot bekommernis oor die moontlikheid van plaasaanvalle bestaan.
De Vries het boere, sakelui en inwoners van die streek tydens die stigting van 'n gemeenskapsveiligheidseenheid op Vrydag, 30 Oktober toegespreek.
Hy het gemaan dat in die geval van aanvalle, die eerste linie van verdediging by die familie in nood self moet plaasvind. "Families moet voorbereid binne hul wonings en op roetes van en na hul wonings wees. Hulle moet hulself kan verdedig vir tussen 20 en 40 minute op afgeleë plekke, voor hulp opdaag."
De Vries het homself daartoe verbind om organisasies binne die streek te help met beplanning om gemeenskapsveiligheid te optimaliseer. "Ek gaan dit aan die hand van bepaalde beginsels en konsepte doen, waar ons gebiedsbeskermingsoperasies sal uitvoer."
Hy het aangevoer dat dit belangrik is om oor 'n goeie bevel, beheer en inligtingstelsel te beskik. Die daarstel van 'n lugvleuel het hy ook as belangrik bestempel. "Die gemeenskap moet nou met alle belangegroepe saamwerk, soos die polisie, landbou-unies, buurtwagte, AfriForum, sekuriteitsmaaatskappye en die plaaslike regering," het hy gesê.
De Vries is besig om hulp vir die oprigting van 'n gesamentlike operasionele sentrum te verleen wat vanuit Riversdal die hele Hessequa-streek sal bedien.
Kyk 'n video hieronder:
Verwante artikels:
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'