Update Video
HESSEQUA NUUS EN VIDEO - 'n Gemeenskapsveiligheidskonferensie het beskerming van Hessequa se inwoners in 'n nuwe rigting gestuur.
Die konferensie het Donderdag en Vrydag, 29-30 Oktober plaasgevind en het ten doel gehad om 'n gemeenskapsveiligheidseenheid op die been te bring.
Dis deur die Goukou-plaaswag gereël en gassprekers soos generaal-majoor Roland de Vries, die DA-politieke leier vir die streek, minister Tertuis Simmers, uitvoerende burgemeester Grant Riddles en speaker van die raad, Andrew
Stroebel het die gaste toegespreek.
Stroebel het die gemeenskap gevra om hul kop in die stryd teen misdaad te druk en saam 'n oplossing te soek. Hy het die streek se buurtwagte bedank vir hul harde werk.
Simmers het op sy beurt gesê die Covid-19-pandemie het sosio-ekonomiese probleme laat opvlam. Volgens hom is daar 'n drastiese toename in landelike misdrywe. "Ons as Wes-Kaapse regering is oor die inwoners in ons landelike gebiede bekommerd. Daar is ondertone wat misdrywe in die gebiede bedryf. Hulle dade is nie meer behoefte gedryf nie. Hulle wil regerings onregeerbaar maak." Hy het gevra dat almal hande moet vat en misdaad tot op die been uitroei.
De Vries het voornemende kopers van plase aangemoedig om by hul aankoopplanne te hou. "Kriminele floreer op paniek en intimidasie om mense van hul planne om plase te koop te laat afsien. Moenie daarvoor val nie. Ken jouself, ken jou vyand en jy sal die stryd wen," het die gesoute oorlogsvegter gesê.
Hy het sy kommer oor die N2-snelweg uitgespreek wat 'n ideale deurgangsroete vir kriminele is, waar hulle dorpe binne Hessequa kan binnekom, misdrywe pleeg en binne minute weer op hul roete kan wees.
Ivan Joubert, organiseerder van die konferensie en voorsitter van die Goukou-plaaswag is nou in die proses om alle inligting saam te stel om sodoende 'n effektiewe gemeenskapsveiligheidseenheid op die been te bring.
Kyk 'n video hieronder:
Vorige artikel: Generaal wil help om Hessequa te beveilig
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'