STILBAAI NUUS - Alhoewel Hessequa die afgelope paar dae net die stertjie van die storm beleef het, het ons dit nie vrygespring nie.
Toe die krag Maandagoggend halftien afgaan was niemand eintlik bekommerd nie, want Eskom en die munisipaliteit sou mos hul werk doen en alles sal normaal voortgaan.
Hier teen Maandagaand het mense ernstige vrae begin vra, maar toe die selfoontorings se batterye pap raak het dinge 'n ernstige wending geneem. Skielik was daar geen internet, plek-plek was daar darem nog Wi-fi, maar kommunikasie met die buitewêreld is afgesny.
Die storm het voortgewoed en niemand kon hulle familie of werkgewers van elders gerusstel dat hulle veilig is nie. Daardie families en werkgewers kon ook nie kontak maak met mense in en om Stilbaai nie.
Op 'n stadium, kon die supermarkte slegs kontantbetalings aanvaar. Outomatiese tellermasjiene werk met krag en kon dus nie gebruik word nie.
Kleiner winkels en besighede het toegemaak en Engen se kragopwekker het probleme gegee. Nêrens in die dorp kon jy gasbottels volmaak nie en die laaste kerse is opgeraap. Die skole was Dinsdag vir veiligheidsredes gesluit.
Intussen het Eskom en Hessequa-munisipaliteit se tegniese afdeling deurnag gewerk om die kragnetwerk te herstel. Ses 14 m-pale moes eers vervang word en daarna kon die lyne weer gelig word. Dit alles in stormweer en reën.
Teen Woensdagoggend het Riversdal en Albertinia krag gehad en teen omtrent sesuur Woensdagaand het Stilbaai gevolg.
As jy terugkyk op hierdie paar dae se beproewing laat dit jou besef dat jy voorbereid moet wees. Dit is klein goedjies soos byvoorbeeld 'n gasbottel wat vol gas is, 'n bietjie kontant weggesteek in jou huis, 'n bietjie blikkieskos en solarlampies.
Bure wat na mekaar omsien en spesiale aandag aan bejaarde, weerlose mense is ewe belangrik.
Indien jy vandag nog steeds probleme ervaar kan jy Hessequa-munisipaliteit se noodnommer by 084 014 1828 skakel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’