Gallery Update
STILBAAI NUUS - Geestelike instansies in Melkhoutfontein het onlangs hande met Stilbaai-polisie en die gemeenskapspolisieforum (GPF) gevat.
'n Geestelike leiersforum is ook tydens die geleentheid gestig.
Die forum stel hom ten doel om eenheid en restorasie in die gemeenskap te bevorder en is interkerklik in sy samestelling.
Fotogalery: Kerke en polisie werk saam
Die forum werk dan ook nou saam met die bestaande Youth Crime Prevention Desk in Melkhoutfontein om doelgerig 'n rol in die ontwikkeling van skoolgaande, werkende en nie-werkende jeugdiges in die gemeenskap te speel.
Verskeie projekte is reeds in hierdie kort tyd van stapel gestuur.
Dit sluit in:
- Projek Grow in samewerking met Ouma Lena se Huis;
- Focus on the Family-ondersteuningsprogram in samewerking met die departement sosiale ontwikkeling;
- loopbaanontwikkeling;
- seuns- en meisiesdrilpeloton;
- 'n trompoppie-projek wat, soos in die geval van die drilpeloton ook op die ontwikkeling van dissipline, trots, leierskap en die bou van karakter by die jongmense kweek; en
- 'n maandelikse Battle Dance-kompetisie onder leiding van Sophia Jacobs.
"Dit was 'n baie geslaagde interkerklike diens waar die gemeenskap bemoedig was om 'n verandering in hul verskeie gebiede te bevorder en as 'n eenheid saam te werk, en om gemeenskappe te bevestig," het sers Christiana Lewaks gesê.
'n Inligtingsessie is ook met jongmense gehou oor hoe die besigheidssektor werk, in samewerking met plaaslike rolspers.
"Die polisie en GPF, met al ons gewaardeerde rolspelers en ondersteuners is verbind tot die skepping van volhoubare inisiatiewe en projekte om die uitdagings van ons jongmense aan te spreek," het Lewaks afgesluit.
Hessequa-munisipaliteit is bedank vir die beskikbaarstelling van die gemeenskapsaal.
Indien enige persoon of besighede by enige van die projekte betrokke wil raak, kan hul Lewaks kontak (028 754 6106) tydens kantoorure.
Vorige artikel: Kerke vat hande met polisie
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'