Update
ALBERTINIA NUUS - 'n Bekende fotograaf van dié dorp en ook vryskutskrywer vir Suid-Kaap Forum, Mariska Visagie, is Woensdag 25 Mei weer as beste ateljeefotograaf in die Tuinroete aangewys.
Sy het hierdie toptoekenning met die African Excellence Awards 2022, wat deur MEA Markets aangebied word, ontvang.
Dit is nie die eerste keer wat Mariska toekennings vir haar uitsonderlike foto's ontvang nie. Sy is in 2020 deur MEA Business Awards as beste familie- en paartjiefotograaf aangewys. Verlede jaar was sy as beste troufotograaf van die jaar aangewys.
MEA Business Awards het Mariska vroeg vanjaar genomineer. Sy moes 'n lys stuur van watter soort foto's sy neem, soos byvoorbeeld trou-, familie-, paartjie- en/of kinderfoto's, buitemuurs of in ateljee, landskap- of portretfoto's en so meer.
Volgens Mariska is alles wat sy met haar kamera doen, baie opbouend vir haar besigheid.
"Hoe meer jy met jou kamera werk, besef jy wat jy alles en nog meer kan doen in raw in plaas van met jpeg. En mens sien 'n mooi toneel met die oog en vang dit met kamera vas, maar daar is soveel maniere om daardie prentjie te verbeter of te verander."
"Ek is baie dankbaar vir hierdie toekenning omdat dit 'n bewys is dat die werk wat ek vir my kliënte in my foto's sit, nie verniet is nie. Die resultaat praat dus vanself."
MEA Markets se navorsingspan versamel inligting onafhanklik van 'n verskeidenheid openbare toeganklike bronne, saam met enige materiaal wat deur die party of genomineerde self verskaf word. Die span assesseer alle inligting wat aan hulle voorgelê word en beoordeel dit dan.
Mariska Visagie tussen spore.
Hulle finale besluit word gebaseer op verskeie kriteria, insluitend besigheidsprestasie, langlewendheid, diversifikasie of groei van die besigheid.
Mariska is altyd nederig met haar kliënte en sy maak seker wat hulle wil hê.
"Ek klets baie en maak grappies gedurende fotosessies, want dit laat my kliënte op hulle gemak voel. 'n Goeie fotograaf soek daardie spontane foto wat nie altyd vasgevang kan word wanneer alles styf en formeel is nie, en dit is waarvoor ek kyk."
'n Spontane foto van twee sussies wat blomme ruik.
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Karoo nuus'