Update
STILBAAI NUUS - "As daar te min fynbos en bome in jou omgewing is dan doen jy self iets daaraan."
Thinus van Heerden van Stilbaai is bekend vir sy filosofie van moue oprol en sorg dat probleme opgelos word. Die besigheid wat hy en sy vrou Maryna die afgelope 22 jaar op die dorp bedryf moet immers soms byna die onmoontlike met naamborde en drukwerk vermag.
Toe die inwonersvereniging van Fisantekraal begin kopkrap oor die tekort aan fynbos en bome in die privaat natuurreservaat het Van Heerden se praktiese aanslag dadelik ingeskop.
Sy stokperdjie is die natuur en hy het onderneem om vanaf 23 April elke dag vir 365 dae 'n boom of struik geskik vir dié gebied te plant.
Van Heerden het dadelik en op eie koste plante begin aanskaf. Hy vertel dat hy elke geleentheid na 'n kwekery gebruik om aankope te doen want die bome en struike kan nie langer as 'n week in emmers staan nie. Bome soos karee, wildepeer, geelhout en essenhout is goeie kandidate. Die wildeperske wat onlangs geplant is, lok die bekende heldergeel skoenlappers wat weer sorg dat ander peste in toom gehou word.
Die lys van fynbos klink soos die lirieke van 'n liedjie met name soos klokkiebos, konfettibos, noem-noem en Septemberbos. Bome word 12 meter en struike drie meter van mekaar geplant. Die fynbos is nader aan Fisantekraal se hek ingesit terwyl die bome hoër op oor 'n paar jaar die munisipale watertenks sal verberg. Sy vrou hou rekord van wat geplant is en die lys sal aan die Fisantekraal-inwonersvereniging gegee word wanneer die projek afgehandel is.
Aanvanklik het Van Heerden water met emmers aangedra maar dit het vinnig onprakties geword. Die bestuur van die inwonersvereniging het hiervan te hore gekom en met Hessequa-munisipaliteit onderhandel vir 'n waterpunt. Na die water aangesluit is het Van Heerden uit eie sak besproeiing aangelê en elke oggend word die plante getrou natgespuit. 'n Foto van die nuwe toevoeging word dan op die inwoners se WhatsApp-groep gedeel. Volgens sommige Fisantekralers is dié foto's al net so verslawend soos 'n sepie.
Die vroegoggend sproeiers strek al met die Fisantekraal-pad af.
Speldekussings het net 'n maand of twee nodig om gevestig te raak.
Lees 'n vorige artikel hier: Plant vir die nageslag
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'