RIVERSDAL NUUS - 'n Inligtingsessie op Dinsdag 29 Mei in die Glaskas by Hessequa-munisipaliteit oor alternatiewe om elektrisiteit op te wek is uiters swak bygewoon.
Slegs drie persone het dit bygewoon, waaronder twee boere en een 'n besigheidsman. Die sessie het gehandel oor die konsep 'Small Scale Embedded Generation' en Justin Lesch, hoof van die elektriese afdeling het die beleid verduidelik.
Dit is opgestel met die doel om alle belangstellende verbruikers die keuse te gee om van alternatiewe energie, soos wind- en sonkrag, gebruik te maak om elektrisiteit op te wek. Hulle sal die keuse hê om elektrisiteit vir hul eie gebruik op te wek of die surplus opwekking direk aan die munisipaliteit te verkoop.
Sonkrag is op die oomblik die hoof fokus om elektrisiteit te bespaar. Besighede sowel as landbouers sal veral baat by die pogings om groen energie inisiatiewe te bewerkstellig in die gemeenskap.
Die konsepbeleid is op 6 Maart met die raad bespreek. Die munisipaliteit beoog nog openbare deelname prosesse in die nabye toekoms.
Vir verdere inligting besoek die munisipale webwerf www.hessequa.gov.za of stuur 'n e-pos aan elektro.tegnies@hessequa.gov.za.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'