SUID-KAAP FORUM - Die Stilbaai Besigheidsforum (SBF) se informele ontbytgesprek met plaaslike eiendomsagente op Donderdag 25 Junie by Coffee & Cream was ’n groot sukses.
Die tema van die oggend was ‘Wat moet die eiendomsektor weet?’
Die geleentheid het belangrike inligting oor ontwikkeling, skemaregulasies en boubeheer aan die eiendomsektor gebied. Die gassprekers was Hendrik Visser, direkteur van ontwikkelingsbeplanning by
Hessequa-munisipaliteit, en Christo Hamman, bestuurder van boubeheer.
SBF-voorsitter Rachel Wall het die verrigtinge geopen deur die rol en doel van die organisasie toe te lig. Sy het verduidelik dat die voormalige Stilbaai Sakekamer in 2023 omskep is in ’n organisasie sonder winsoogmerk en die naam ‘Stilbaai Besigheidsforum’ aangeneem het. Die forum se hoofdoel is om plaaslike ekonomiese groei te bevorder.
Volgens Wall bestaan die SBF se sakemodel uit twee funksionele afdelings: ’n netwerkplatform vir gevestigde ondernemings en ’n platform wat nuwe sakeondernemings ondersteun.
Christo Hamman (bestuurder: boubeheer), Hendrik Visser (direkteur: ontwikkelingsbeplanning) en Rachel Wall (voorsitter van die Stilbaai Besigheidsforum) tydens die forum se netwerkgeleentheid vir plaaslike eiendomsagente by Coffee & Cream. Foto: Johan Victor
Die kern van die forum se werk is om mense met gedeelde belange bymekaar te bring, verhoudings te versterk, toegang tot kundigheid te bied en idees uit te ruil wat in die praktyk toegepas kan word.
Visser het in sy aanbieding gefokus op skemaregulasies binne die residensiële sektor. Hy het daarop gewys dat eiendomsagente gereelde vrae ontvang oor onderwerpe soos die bedryf van ’n onderneming vanuit ’n woning, die oprigting van meer as een woning op ’n erf en ander ontwikkelingskwessies.
Eiendomsagente word meestal gekonfronteer met vrae soos: mag ek ’n besigheid van my huis af bedryf, of mag ek meer as een huis op my eiendom bou, en nog talle ander soortgelyke.
Visser beklemtoon dat die groot hoeveelheid regulasies dit vir die gemiddelde huiseienaar moeilik maak om alles te verstaan. Daarom is dit volgens hom noodsaaklik om vooraf navraag te doen oor wat toegelaat word en wat nie, eerder as om onbewustelik die wet te oortree.
Die Stilbaai Besigheidsforum se gesellige netwerkontbyt by Coffee & Cream het sowat 30 plaaslike eiendomsagente gelok. Die geleentheid het waardevolle insigte oor ontwikkeling, skemaregulasies en boubeheer in Stilbaai gebied. Foto: Johan Victor
Hy het ook die jongste inligting oor die westelike verbypad gedeel. Die projek sal in drie fases uitgevoer word. Fase 1 strek van Hoofweg-Wes by Under Milkwoodweg tot by Kerkstraat en behoort binne die volgende jaar voltooi te wees. Fase 2 sal van die Jongensfonteinpad tot agter die Fleur de Vie-ontwikkeling strek, terwyl fase 3 die middelste gedeelte sal vorm wat die eerste twee fases verbind.
Hamman het op sy beurt die belangrikheid van boubeheer beklemtoon. Hy het gesê doeltreffende boubeheer is een van die kenmerke wat funksionele munisipaliteite van minder funksioneles onderskei.
Hy het daarop gewys dat wettige bouplanne van kritieke belang is tydens die koop- en verkoopproses van eiendom. Onwettige strukture kan transaksies vertraag of selfs in die wiele ry.
Hamman het inwoners aangemoedig om die munisipaliteit se boubeheerafdeling te raadpleeg indien enige onsekerheid bestaan oor bouwerk of regulasies. Volgens hom kan tyd en geld gespaar en onnodige probleme vermy word deur vooraf die nodige navrae te doen.
Die ontbytgesprek het deelnemers met waardevolle praktiese kennis toegerus en die belangrikheid van samewerking tussen die eiendomsektor, die munisipaliteit en die plaaslike gemeenskap beklemtoon.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’