STILBAAI NUUS - Drie lede van die NSRI se Stasie 31 in Stilbaai het onlangs as Vlak-3-bootsmanne gekwalifiseer, wat die stasie se vermoë om vinnig en doeltreffend op seenoodgevalle te reageer, verder versterk.
Lian Combrink, Waldi Haarhoff en Susan Grové het 'n intense vierdaagse opleidingsessie by die NSRI se opleidings-akademie in Grangerbaai voltooi.
Die kursus het uit uitgebreide teoretiese en praktiese opleiding en eksamens bestaan.
'n Bootsman is die hoogste gesag aan boord van 'n reddingsboot en is verantwoordelik vir die veiligheid van die bemanning, asook die uitvoering en koördinering van 'n reddingsoperasie.
Die opleiding dek 'n wye reeks vaardighede, waaronder seekennis, navigasie, boothantering, botsingsregulasies, besluitneming en uithouvermoë.
Laasgenoemde word veral getoets tydens lang ure op see.
Die akademiese vereistes is streng, met 'n minimum van 90% wat nodig is om die eksamens te slaag.
"Wanneer jy 'n bootsman word, word jy ook die onderwyser.
As jy net 70% van die werk ken, is dit al wat jy die ander kan leer," verduidelik Graeme Harding, hoof van die NSRI se opleidingsakademie.
Benewens die tegniese aspekte van reddingswerk word daar ook sterk klem gelê op stresbestuur en die sielkundige faktore wat met besluitneming en leierskap tydens noodsituasies gepaardgaan.
Die praktiese assessering het onder meer oefeninge ingesluit waarin bote omgeslaan word, bootbeheer- en sleeptake, asook 'n navigasie-oefening waartydens die kandidate nie van hul elektroniese navigasie-instrumente kon gebruik maak nie.
Stasie 31 beskik oor twee reddingsbote wat slegs te water gelaat mag word wanneer 'n gekwalifiseerde bootsman aan boord is.
Die kleiner klas-4-boot is 'n 4,7 m JetRIB, wat ligter en beweegliker is en vinniger in daglig en branders gebruik kan word.
Die stasie beskik ook oor 'n klas-3-boot van 8,5 m, wat tot sowat 80 km van die kus af, dag en nag en onder moeilike weerstoestande, vir 'n verskeidenheid reddingsoperasies aangewend kan word.
Die drie nuwe bootsmanne beteken dat die verantwoordelikhede nou oor meer gekwalifiseerde bemanningslede versprei kan word.
Dit gee Stasie 31 groter buigsaamheid om sy twee reddingsbote te beman en op noodgevalle te reageer.
Die naaste ander NSRI-stasies is in Witsand en Mosselbaai.
Om die drie in hul nuwe rolle te verwelkom, het Stasie 31 'n besondere tradisie gevolg.
Elkeen het 'n bottel sjampanje ontvang, waarvan die prop by die hawemuur die see in geskiet moes word.
Daarna moes hulle met klere en al, die water inspring om die proppe aan wal te bring.
Soos ware bootsmanne het Combrink, Haarhoff en Grové die laaste uitdaging met vlieënde vaandels geslaag.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’