Gallery Update Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - 'n Speelpark ter nagedagtenis aan wyle wyksraadslid, Thomas (Tom) Pretorius, is Dinsdag, 20 Oktober amptelik geopen. Die uitvoerende burgemeester, Grant Riddles, het die opening behartig.
Verskeie raadslede, waaronder die speaker, Andrew Stroebel, wat ook as programdirekteur opgetree het, asook Gerald Boezak, Ivan Mangoliso en James Gelderbloem het elkeen hulde aan hul ontslape kollega gebring.
Munisipale bestuurder, Johan Jacobs, Rhusaan Manho (direkteur: tegniese dienste) en André Hansen (bestuurder: spesialis vaste-afvalbestuur) was ook teenwoordig.
Pretorius se weduwee, Maria, sy broer Franklin, sy suster Shirley Kouter en dogter Chelsea Cieta was onder die nagenoeg 90 aanwesiges wat die verrigtinge bygewoon het.
Fotogalery: Speelparkie vir Riversdal
Riddles het gesê dat dit die eerste keer is dat 'n raadslid op so 'n manier vereer word. Volgens hom is Pretorius die eerste raadslid wat gesterf het terwyl hy nog 'n dienende raadslid was. Hy het al die raadslede, ongeag politieke verbintenis, vir hul ondersteuning bedank om die fasiliteit na Thomas Pretorius te vernoem.
Kyk 'n video hieronder:
Met verwysing na die instandhouding van die fasiliteit, het Riddles gesê dat die verantwoordelikheid nie net op die munisipaliteit rus nie, maar dat dit ook die gemeenskap se plig is om toe te sien dat kwaaddoeners dit nie vandaliseer nie.
Volgens Mangoliso was Pretorius se bydrae van onskatbare waarde wat een mens tot die bou en uitbreiding van 'n gemeenskap gelewer het. "Deur die onthulling van die speelpark salueer ons ook sy bydrae as vader vir sy gesin en gemeenskap, mentor vir vele jongmense, aktivis en voorstaander vir gelykheid en geregtigheid, gemeenskapswerker van soggens tot saans laat, asook raadslid, gedissiplineerd en altyd voorbereid."
Hy het ook verwys na Pretorius se passie vir jeudiges wat verder wil studeer en sy betrokkenheid by die Rural Educational Access Programme (REAP) om studiebeurse vir hulle te verseker.
'n Emosionele Maria Pretorius het haar dank teenoor die munisipaliteit uitgespreek en gesê dat dit haar trots maak dat die fasiliteit na haar man vernoem is. Sy het 'n ernstige pleidooi aan die inwoners gerig om toe te sien dat geen vandalisering plaasvind nie. "Almal moet eienaarskap van die speelpark neem om te verseker dat dit 'n spogfasiliteit van Diepkloof en Heidelberg word."
Die onthulling van die gedenksteen is met die knip van die lint deur Maria en Riddles behartig. 'n Boom ter herdenking aan die toegewyde raadslid is ook geplant.
Vorige artikel: Wyk 4 kry 'n speelpark
Die onthulling van die gedenksteen is deur rdl Grant Riddles en Maria Pretorius (heel links en langs gedenksteen) behartig. Foto's: Clive Pretorius
Terwyl die amptelike verrigtinge besig was, het die kinders solank die speelpark ingewy.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'