Update Video
STILBAAI NUUS EN VIDEO - Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) se tak in dié kusdorp, Stasie 31, speel 'n uiters belangrike rol in die gemeenskap wat betref hulpverlening in die geval van noodsituasies, ongelukke of beserings, hoewel hul hoofdoel is om lewens in Suid-Afrikaanse waters te red.
Die geregistreerde, nie-winsgewende organisasie wat vanjaar sy 50ste bestaansjaar in die land herdenk het, maak net gebruik van vrywilligers waarvan daar meer as 'n duisend in diens is.
By Stasie 31 is Arrie Combrinck die stasiebevelvoerder en die komitee bestaande uit George Sabbagha, wat tweede in bevel is, Charl Haupt, Danie Gerryts en Gerhard du Plessis is daar tans 15 vrywilligers wat elke Donderdagaand vergader om onder andere opleiding te doen.
Die groep mans en vroue is tans besig om gereed te maak vir die vakansieseisoen wat op hande is.
Met tussen 40 000 en 50 000 vakansiegangers wat Stilbaai en Jongensfontein gedurende Desember besoek, word hul dienste meer dikwels benodig as deur die loop van die jaar.
Verlede jaar is Stilbaai se NSRI ongeveer 33 keer ontbied en volgens Combrinck het dit hulle telkens tussen slegs 10 en 12 minute geneem vandat hulle die oproep ontvang het, tot hul boot gereed was om te vertrek.
Kyk 'n video hieronder:
"Die stasie het egter tans 'n tekort aan vrywilligers en veral lede wat as bemanning op seevaartuie kan uitgaan, word benodig," verduidelik Combrinck.
Mans en dames wat belangstel om aan te sluit, is welkom om hom direk te kontak.
Die NSRI ontvang geen provinsiale of regeringshulp nie en is afhanklik van skenkings en donasies vir hul voortbestaan.
Stilbaai se Stasie 31 het 'n wenslysie met items wat hulle vir die uitvoering van hul taak benodig.
Lede besig om 'n reddingsituasie te simuleer.
Die stasie se jaarlikse NSRI 10 km-pretdraf wat weer op 31 Desember vanaf die tak by die hawe plaasvind, is een van hul grootste geldinsamelingsprojekte met verskeie bykomende aksies wat volgende jaar beplan word.
Kontak Combrinck by 082 990 5978 vir meer inligting.
Lees 'n vorige artikel: Sluit aan by die NSRI
ARTIKEL, VIDEO & FOTO'S: ELZA THIART-BOTES, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'