Update
RIVERSDAL NUUS - Hoërskool Langenhoven in Riversdal se leerders, bekend as die Dasse, maak 'n groot verskil met glasflesse vol sopmengsel.
Volgens die skool se woordvoerder, Estéa Venter, het twee onderwysers, Hardy en Martha de Beer, vriende se voorbeeld gevolg en die botteltjiesop-projek by die skool geloods. Elke onderwyser het sy of haar kant gebring en vier yslike houers is met bestanddele gevul.
Daar is soveel bygedra dat al die matrikulante moes inspring om die bottels vol hoop en lekkerte uit te deel waar die nood druk.
Die waarde van elke 200g bottel - herwonne kitskoffiebottels - se inhoud is tussen R20 en R25 en dit kan aan tot agt persone 'n ruim porsie sop elk verskaf. Die inhoud is een koppie elk van rys, sopmengsel en lensies. Sit 'n pakkie soppoeier en een vleisblokkie by, kook in 3 liter water en siedaar - 'n heerlike pot voedsame sop.
Venter sê hulle hoop die hele gemeenskap volg die skool se voorbeeld en neem deel aan dié projek.
Agter, van links: Anri de Goede, Martha de Beer en Bianca Lombaard. Voor: Hendrik-Louis Fourie, Hardy de Beer en Courtan Meyer.
Vorige artikel: Botteltjiesop vul meer as die maag
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'