STILBAAI NUUS - Stappers en drawwers wat van die Stilbaai-Wes-wandelroete gebruik maak, moes gedeeltelik van ander roetes gebruik maak omdat die houtbruggie besig is om in mekaar te sak en dit toegemaak is.
Die bruggie is ongeveer 150m vanaf die Paling-/Waterkantstrate-kruising in die see se rigting.
Die paadjie aan die onderkant naby die buitelug-gimnasium is ook erg onder sand, het Suid-Kaap Forum van inwoners verneem.
Dié wandelroete is een van die gewildstes wat deur toeriste en besoekers gebruik word. 'n Plaaslike drafgroepie gebruik dit ook 'n paar keer per week, maar veral Saterdae wanneer persone wat werk, ook saam kan draf of stap.
Kommentaar deur Hessequa-munisipaliteit
Die herstelwerk word tans ondersoek en geniet aandag. Alle pogings word aangewend om alle strande en openbare plekke betyds gereed te kry vir die seisoen.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'