STILBAAI - Die 61-jarige Thys Lombard van Stellenbosch is Vrydagmiddag, 14 Augustus, oorlede nadat hy tydens 'n branderykompetisie by Sandstrand, Jongensfontein, vermoedelik 'n hartaanval gehad het.
Die NSRI Stasie 31 Stilbaai se diensbemanning is omstreeks 14:00 geaktiveer nadat berigte ontvang is van 'n man wat bewusteloos in die brandersone verkeer het.
Die NSRI-reddingsboot Breede Rescuer was op daardie stadium op die water en in die omgewing van die branderrykompetisie en het onmiddellik van koers verander om hulp te verleen. Ander NSRI-bemanningslede, NSRI-mediese personeel en die Wes-Kaapse Regering se gesondheid-EMS is ook na die toneel ontbied.
Teen die tyd wat hulp opgedaag het, was lede van die publiek reeds besig met KPR (kardiopulmonêre resussitasie) op Lombard, wat aan die branderykompetisie deelgeneem het.
Die Breede Rescuer het by die toneel aangekom waarna twee NSRI-bemanningslede na die strand geswem het om met KPR te help. Verdere NSRI-bemanningslede en EMS-paramedici het kort daarna opgedaag en hulp verleen in 'n poging om Lombard se lewe te red.
Ondanks uitgebreide pogings om hom te resussiteer, kon sy lewe nie gered word nie en is hy op die toneel dood verklaar.
Volgens inligting het Lombard glo bewusteloos geraak terwyl hy besig was om branderplank te ry. Medebranderryers het hom na die strand gebring, alarm gemaak en dadelik met KPR begin.
Die polisie het die toneel bygewoon en die oorledene is aan die sorg van die polisie en die regering se forensiese patologiedienste oorgedra. 'n Geregtelike doodsondersoek is geopen.
In 'n roerende huldeblyk het mede branderryers Saterdag 15 Augustus by Stilbaai-Wes-strand byeengekom. Met hul branderplanke het hulle die water ingegaan om op dié besondere wyse afskeid van Lombard te neem.
Die NSRI het sy innige medelye teenoor Lombard se familie, vriende en die breër branderrygemeenskap uitgespreek, terwyl boodskappe van meegevoel op sosiale media ingestroom het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’