STILBAAI NUUS - 'n Sterk suidewind het die brand tussen Stilbaai en Jongensfontein Vrydagmiddag 27 Desember omtrent halfeen weer laat opvlam en dit het blitsvinnig versprei.
Die suidewind het hom gelukkig in die rigting van die teerpad gevat en die brandbestryders het voorbrande gemaak om hom weg te hou van die grasdakhuise by Bosbokduin.
Twee helikopters en 'n vastevlerk vliegtuig is aangevra, terwyl brandspanne van Tuiroete Distrikmunisipaliteit, Hessequa en Working On Fire ontplooi is en talle boere en lede van die gemeenskap het opgedaag met watertenks om die vuur te help beveg.
Op 'n stadium was die vuur teenaan die teerpad en die pad moes vir lank gesluit word. Heelwat later het dit verander en die verkeersafdeling kon stringe motors deur die gebied begelei.
Die helikpters en vliegtuig hetr die een na die ander vrag water op strategiese plekke gegooi en teen die aand was alles onder beheer.
Die brandspanne het egter deurnag op die toneel gewaak om seker te maak die smeulende as spring nie weer op nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’