STILBAAI NUUS - Laerskool Bertie Barnard het van 10 tot 13 Oktober Brain Tribe-sessies vir al sy leerders aangebied.
Brain Tribe gebruik neurowetenskap en sielkunde om vir kinders te verduidelik hulle het 'n keuse oor hoe hulle dink en optree. Dit leer hulle, onder andere, dat jy beheer kán neem oor jou lewe en die keuses wat jy maak.
Op 'n tasbare en baie eenvoudige manier vertel Brain Tribe aan kinders hoe dinge in hul koppe gebeur.
Die kinders ontmoet die Tribe, wat hulle help om deur middel van kleurvolle karakters die werking van hulle brein met besluitneming te verstaan. Hulle ontmoet Brain Buddy (prefrontale korteks), Wagter die hond (amigdala), Piet Papegaai (hippokampus), Bob Bobbejaan (kommergedagtes) en Ou Koei (negatiewe selfspraak).
Brain Buddy help hulle om slim besluite te maak en die regte ding te doen. Wagter wil hulle beskerm, maar kan baie angstig raak met die veg-, vlug- en vriesreaksie.
Piet Papegaai is soos 'n bandopnemer wat alles wat gesê word opneem en terugspeel. Bob Bobbejaan is 'n baie kreatiewe deel van die brein, maar ongelukkig in 'n negatiewe sin. Bob is altyd bekommerd oor 'n klomp goed.
Die laaste karakter is die Ou Koei in die sloot en dit het baie met selfspraak te doen. Manie Botha, aanbieder van die program, werk op verskillende maniere met die verskillende jaargroepe, maar die boodskap bly dieselfde.
Hy sê dat lae emosionele intelligensie en min sosiale vaardighede veroorsaak dat kinders sukkel met 'n swak selfbeeld, gedragsprobleme toon, meer vatbaar is vir groepsdruk en gereeld in konflik kom met maats, ouers en onderwysers.
Die gr. 1- tot gr. 3-groep neem opgewonde deel aan die sessie.
Suid-Kaap Forum het met 'n paar ouers, wie se kinders die sessies bygewoon het, gesels en hulle was dit eens dat daar 'n verskil in hulle kinders was. Kinders help selfs hulle ouers en gebruik die verskillende karakters in hierdie gesprekke.
Bertie Barnard is tot dusver nog die eerste en enigste skool in Hessequa wat hierdie sessies vir hulle leerders aangebied het, maar dit kom ook met die ondersteuning van die ouers van die skool, want daar is kostes aan verbonde en skole het nie altyd die fondse beskikbaar nie.
Leerders van Laerskool Bertie Barnard het geen aanmoediging nodig nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’