Update
RIVERSDAL NUUS - 'n Polisievrou kan moontlik die verdagte in 'n saak van roekelose en nalatige bestuur wees na haar motor met 'n motorfietsryer gebots het.
Vrae word gevra oor die feit dat nog geen vervolging plaasgevind het nie in die ongeluk wat op 20 Desember verlede jaar, omstreeks 19:00 in Hoofstraat, Riversdal plaasgevind het.
Die voertuig het na die botsing van die toneel af weggery.
Op CCTV-materiaal kan gesien word hoe die motorfietsryer in die rigting van Heidelberg ry, die motor by die Van der Bergstraat-stopstraat wegtrek en voor die motorfietsryer inry.
Die beeldmateriaal toon hoe die motor vlugtig stop, iemand by die passasiersdeur uitkyk en die bestuurder toe van die toneel wegry en die beseerde motorfietsryer in die pad agterlaat.
Volgens inligting was die motorfietsryer bewusteloos en ontvang hy steeds behandeling vir sy beserings.
Sersant Chris Spies, Suid-Kaapse polisiekommunikasiebeampte het Dinsdag, 23 Februarie gesê die Riversdal-speurders ondersoek die saak.
Hy het bevestig dat 'n klag van roekelose en nalatige bestuur geopen is en omstandighede rondom die voorval nog ondersoek word.
"Die ondersoek moet nog afgehandel word," het Spies gesê.
'n Videogreep van die ongelukstoneel.
Vorige artikel: Polisie ondersoek nog botsing
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'