STILBAAI NUUS - Die Tuinroete-distriksmunisipaliteit (GRDM) se omgewingsgesondheidspraktisyns wat die Hessequa-gebied bedien, het Woensdag 12 Augustus 'n gesamentlike blitsoperasie in Melkhoutfontein uitgevoer.
Die operasie is in samewerking met Hessequa-munisipaliteit se wetstoepassers en Stilbaai-polisie onderneem, met elke betrokke departement wat op sy onderskeie wetlike mandaat gefokus het.
Die munisipale gesondheidspan het veral aandag gegee aan voedselveiligheid, higiëne en etikketering ingevolge Regulasie 638, wat die strukturele en higiëniese vereistes vir voedselpersele bepaal.
Altesaam 16 spazawinkels is tydens die operasie besoek en geïnspekteer.
Die GRDM se portefeuljevoorsitter vir gemeenskapsdienste, Jobieth Hoogbaard, en Marlin Jansen het die span in 'n toesig- en ondersteuningsrol vergesel.
Die inspeksies het onder meer gefokus op die nakoming van voedselveiligheidsregulasies, korrekte produketikettering en die hantering van voedselprodukte. Beamptes het onder andere gekyk na die korrekte gebruik van "beste voor", "verkoop teen" en "gebruik teen"-datums, asook die akkuraatheid van bestanddeeletikette.
Produkte wat beskadig, verval, of andersins nie geskik vir menslike gebruik is nie, is ook geïdentifiseer met die oog op verwydering.
Die blitsoperasie vorm deel van 'n reeks soortgelyke operasies wat die GRDM se munisipale gesondheidsafdeling deur die jaar in die Tuinroete-distrik uitvoer.
Volgens die munisipaliteit is die doel van hierdie gereelde inspeksies om die gesondheid en veiligheid van gemeenskappe te beskerm, voedselveiligheid te bevorder en toe te sien dat voedselpersele aan die toepaslike wetgewing voldoen.
Die samewerking tussen die verskillende wetstoepassings- en regeringsdepartemente speel 'n belangrike rol om gemeenskappe te beskerm en te verseker dat sakeondernemings hul verantwoordelikhede teenoor verbruikers nakom.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’