Gallery Update Video
RIVERSDAL NUUS - Die eerste Blanket Run het Saterdagoggend 09:00 uit Riversdal vertrek en altesaam 168 komberse vir behoeftiges ingesamel.
"Ons is lede van Solidariteit Helpende Hand se motorfietsklub en ons het besluit om komberse in te samel vir mense wat swaarkry," sê Corrie van der Westhuizen, wat saam met sy vrou, Antoinette, die afgelope jaar op Witsand woon.
"Motorfietsryers het groot harte vir mense in nood, veral vir oumense en kinders wat weens die ekonomiese toestande swaarkry."
Volgens hom is daar soortgelyke motorfietsklubs wat landwyd komberse bymekaarmaak, daarom het hy besluit om dieselfde hier te doen ten einde 'n verskil in die gemeenskap te maak. "Ons lyk 'mean', maar ons het eintlik klein hartjies."
Die groep motorfietsryers het om 09:00 uit Riversdal na Heidelberg vertrek, vanwaar hulle om 10:00 Swellendam toe gery het. Oral het motorfietsryers van George, Mosselbaai, Riversdal, Stilbaai, Witsand, Heidelberg, Swellendam, Strand en Gordonsbaai, Wellington, Worcester en die Paarl by hulle aangesluit.
Altesaam 80 ryers op 46 motorfietse het by Barrel and Blues in Swellendam bymekaargekom, waar Corrie nog 'n belangrike aankondiging gemaak het. "Ons gaan vandag ook 'n kinderhuis-projek bekendstel," het hy vertel. "Daar is nêrens die Tuinroete 'n plek waar kinders wie se ouers nie na hulle kan omsien nie, 'n veilige hawe kan vind."
Kyk 'n video hieronder:
Die kinderhuis is 'n gesamentlike projek van die Helpende Hand Motorfietsklub en Langeberg Christian Fellowship. Vir die doel is daar reeds 'n deposito vir De Heidel-gastehuis betaal wat in 'n kinderhuis omskep kan word. Die huis het sewe slaapkamers, wat ten minste 35 kinders kan huisves.
Daar is ook 'n afsonderlike woonstel waar huisouers kan woon. "Ons glo ons sal teen die einde van die jaar die nodige fondse hê."
Kontak Corrie van der Westhuizen by 082 419 1770 of mos@absamail.co.za vir meer inligting.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'