Gallery Update Video
HESSEQUA NUUS EN VIDEO - 'n Verwoestende bergbrand het hektaars veld in die Langeberge uitgebrand.
Die brand het vermoedelik Maandagoggend, 25 Januarie ontstaan toe klippe in die Brandrivier-omgewing teen die berg afgerol, teen mekaar gestamp en vonke veroorsaak het.
Binne oomblikke kon die rook van sover as Stilbaai gesien word.
Tuinroete-rampbestuur het 'n brandspan na die gebied gestuur om 'n strategie saam te stel om te keer dat die brand verder versprei, maar 'n sterk wind wat kort-kort van rigting verander het, het sake bemoeilik.
Die wind het vlamme kilometers ver versprei en dit was nie lank voor die brand buite beheer geraak het nie.
Foto's: Bergbrand by Brandrivier
Tuinroete se brandweermanne het deurnag die woedende brand onder beheer probeer bring. Vroeg Dinsdagoggend het Tuinroete-distriksmunisipaliteit 'n helikopter en spotter-vliegtuig gestuur om bystand te lewer.
Dié lugsteun is kort na 12:00 onttrek omdat hulle nie die brand kon blus nie. Die vlamme het in die rigting van Barrydale beweeg.
Brandweermanne het aan die voet van die berg huise en ander strukture teen die brand beskerm.
Die vuur is Woensdagoggend as onder beheer verklaar, maar word steeds gemonitor.
Kyk 'n video hieronder:
Niks kon die vlamme stuit nie. Die brand het meestal oor hoogliggende gedeeltes gewoed. Foto's: Christo Vermaak
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'