Update
SLANGRIVIER NUUS - Die dorp was Donderdag 24 Mei geskok met die tragiese dood van 'n 13 maande oue babaseun wat kort na 12:00 in 'n emmer verdrink het.
Adrian Lotz het op die bed geslaap toe sy ma, Susan (Sussie) Lotz glo na die buitetoilet gegaan het. Met haar terugkoms het sy hom met sy kop in 'n 20-liter verfemmer, wat hulle vir drinkwater gebruik, gekry. Lotz en Adrian se pa, Abraham Michaels, asook haar 10-jarige seun, Selvino bly in 'n houthuis op die nooderwe. Hulle deel die toilet en 'n buitekraan met drie ander gesinne.
Sy het om hulp geroep en haar buurvrou, wat kom hoor het wat die probleem is, het die polisie ontbied. Die ambulansdienste is ook ontbied en Adrian is op die toneel dood verklaar. Van die inwoners het verslae rondgestaan.
Een van die bure, Annie Willemse, vertel dat Adrian hom nooit aan die wateremmer gesteur het wat daar staan nie. Sy pa, wat by die werk was toe dit gebeur het, het Adrian se liggaam self na die forensiese voertuig gedra.
Michaels het onbedaarlik begin huil kort nadat hulle berading by die traumakamer ontvang het. Adrian was sy enigste kind. "Ek gaan my raasbekkie baie mis. Hy was my alles."
'n Geregtelike doodsondersoek word gedoen. Geen misdaad word vermoed nie.
Die begrafnisreëlings was teen saktyd nog nie bekend nie.
Lees 'n vorige artikel: 13-Maande-oue baba verdrink
'Ons bring jou die nuutste Slangrivier, Hessequa nuus'