Update Video
HEIDELBERG NUUS EN VIDEO - Inus Baard (68) het sewe jaar gelede die roeping van die Here ontvang om die talent waarmee hy geseën is, vir uitreike te gebruik.
Baard het op 14 September te voet vanaf Saldanha vertrek en beoog om op 13 Oktober Port Elizabeth te bereik.
Die doel van dié groot staptog is om mense bewus te maak, asook geld vir Kinderoord MTR Smit in Port Elizabeth te in.
Die oord bestaan uit 93 behoeftige kinders tussen die ouderdom van drie tot 18 jaar oud.
Dié dapper stapper het Woensdag 27 September by Heidelberg aangedoen waar Suid-Kaap Forum met hom en sy vrou, Gerda, gesels het.
Nie net maak hy mense bewus van sy uitreike nie, maar wil hy ook die lig en liefde van Jesus uitdra en in ander mense se lewens 'n verskil maak.
Vanjaar kon sy vrou hom vir die eerste keer met die motor vergesel en deel sy ook in die ervaring. Volgens haar raak sy meer bewus van elke tree wat hy gee.
"Ek ry die pad en sien die kilometers wat hy stap en die weer wat 'n groot uitdaging is. Ek help hom in- en uitpak vir elke staptog om hom vir die volgende dag voor te berei."
Hierdie pragtige paartjie is al 33 jaar getroud en woon in Port Elizabeth.
Gerda maak seker al die inligting van sy staptogte word bymekaar gehou en op sosiale media geplaas.
Sy hou boek van sy GPS-roetes en maak gebruik van 'n sisteem wat rekord hou van sy spoed, kalorieë wat verbrand word, kilometers en roete.
Volgens Baard is dit nie altyd maklik nie en word hy gereeld met uitdagings gekonfronteer.
"Wonderwerke gebeur daagliks langs die pad, beserings herstel, pyn gaan weg en ek kry tyd om vir almal te bid en met God te praat."
Die weersomstandighede maak dit ook nie altyd maklik nie. "My liggaam is al geklimatiseer en die weerstoestande hou my nie van die pad af weg nie."
Die verkeer kan ook 'n groot gevaar wees, veral met windrukke van verbygaande voertuie en nou kantpaadjies.
Om genoeg energie vir 'n staptog op te bou, sal mens wonder waaruit so 'n persoon se dieet bestaan. Volgens sy vrou eet hy alles "veral 'n groot stuk steak."
Saans klim hy al teen 19:00 in die bed om goed uit te rus vir die volgende dag se stap wat reeds om 05:00 begin.
Hy stap ongeveer 50 km 'n dag en stap maklik drie pare tekkies per jaar op.
"Ek kan 1 800 km met 'n paar tekkies stap en ek het alreeds 35 000 km afgelê vandat ek my stapuitreike begin het."
Hy wil die geld vir solargeisers aanwend, wat op nege huise aangebring gaan word waarin die kinders van die oord bly.
Hierdie toevoeging sal die oord tot R30 000 per maand bespaar aan elektrisiteitsonkostes.
Lees 'n vorige artikel: Baard stap die ekstra myl
Kyk 'n video hieronder:
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'