Video
SWELLENDAM NUUS EN VIDEO - Die twee mans wat van die moord en ernstige aanranding van twee bejaarde vroue van Jongensfontein in Januarie 2018 aangekla word, is Woensdag 26 Junie in die rondgaande hooggeregshof skuldig bevind.
James Steyn (49) en Cornelius van Rooy (43) het op 10 aanklagte tereggestaan, wat naas moord en poging tot moord op die bejaarde vroue, ook voertuigdiefstal, inbraak en roof insluit.
Daarbenewens sluit dit sewe aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer, poging tot moord en roof van ses hawelose mans die aand van 25 Januarie op Stilbaai in.
Albei het onskuldig gepleit en volgehou hulle was nooit op enige van die misdaadtonele nie.
Volgens adv. Mornay Julius, het Steyn, 19 en Cornelius van Rooy, 23 vorige oortredings. Albei het dit erken.
Gideona (Ona) Hugo (80) en Hester de Wit (88) is in die vroeë oggendure van 26 Januarie in hul huis by Noorkapperlaan, Jongensfontein in die Stilbaai-omgewing aangerand en beroof. Volgens die nadoodse ondersoek het Hugo weens verwurging gesterf, terwyl De Wit met 'n stomp voorwerp ernstig aangerand is.
Die gebeure het sedert die saak op 27 Mei begin het in die hof ontvou. Die staat het sy saak op Dinsdag 18 Junie gesluit.
Kyk 'n video hieronder:
Die verdediging se verweer
Op Woensdag 19 Junie het Steyn in sy verdediging getuig en die hof het vir die eerste keer van 'Whitey' gehoor. Steyn is Donderdag 20 Junie deur adv. Mornay Julius vir die staat kruisondervra.
Volgens Steyn was dit Whitey wat hom en Van Rooy die nag van 25 Januarie op Stilbaai met die ontslape Hugo se voertuig opgelaai het. Daarna is hulle saam met Whitey na Melkhoutfontein waar hulle Mandrax, dagga en tik gekoop het. Whitey, wat klaarblyklik na Somerset-Wes op pad was, het Steyn 'n saamrygeleentheid na Heidelberg, sy tuiste aangebied. Maar hulle moes hom blykbaar eers help om goed in Jongensfontein te gaan oplaai.
By die moordhuis aangekom, het Steyn glo gesien die motorhuisdeur staan oop. Whitey het hulle by die oop kombuisdeur ingelaat. Op die tafel het goedere gestaan, wat Steyn gevra is om na die motor te neem. Hy het - blykbaar met Whitey se toestemming - uit die gemmerbierbottel wat op die kombuistafel gestaan het, gedrink. Volgens sy weergawe het hy nooit die res van die huis betree nie. Die drie mans is daarna oor Vermaaklikheid na Riversdal, maar op dié pad het die voertuig sonder brandstof gaan staan. Whitey het glo gesê hy gaan 'n geleentheid met 'n skoolbus probeer kry sodat hy brandstof kan gaan koop. Dit was die laaste sien van hom.
Volgens getuienis van 'n boer wat by hulle verbygery het, het die twee vir hom geld vir brandstof gegee. Steyn het dit ten sterkste ontken en gesê die boer vertel 'n leuen. Die twee is daar deur die polisie in hegtenis geneem.
Van Rooy het Donderdagmiddag dié verloop van die aand in sy betoog bevestig, maar volgens sy weergawe het hy die Vrydagaand eers 10:30 van Oos-Londen af op Stilbaai aangekom.
Uitspraak
Regter Wille het in sy uitspraak verwysings na ene Whitey as verdigsel verwerp. Hy het albei aangeklaagdes, op enkele uitsonderings na, aan al 10 aanklagte skuldig bevind.
Die saak word tot 10 September uitgestel vir vonnisoplegging.
Swellendam-landdroshof, waar twee aangeklaagdes in die rondgaande hooggeregshof verhoor word in die opspraakwekkende Jongensfontein-moord en aanrandingsaak van Januarie 2018.
Lees verwante artikels hier:
- Jongensfontein-moordverhoor gaan voort
- Bejaardes van Jongensfontein se geweldenaars verskyn in hof
- Jongensfontein moordverhoor op die rol
- Twee Maandag in hof: Jongensfontein moord
- Jongensfontein: 2 Vasgetrek vir moord
- Jongensfontein: Moordsaak uitgestel
- Opvolg: Jongensfontein-moord
- Jongensfontein: 2 Verdagtes gearresteer
- Jongensfontein: Vrou glo vermoor
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'